Op ’n drafstap die verte in
2009-06-04
Malané Bosman
NOU hoekom sal ’n mens 878km ver te perd die land wil platdraf? “Dis wie ek is,” sê Berto Augustyn van Simondium, met ’n bree glimlag op sy songebrande gesig. Berto hou van langafstand-sport, vertel hy in sy plaashuis. Oor die oop balke bokant sy kop hang vier saals en teen die voordeur staan ’n bloedrooi bergfiets. Hy is ’n fikse 26 jaar, moet ook wees, want om beslaner van beroep te wees, vat aan ’n man se spiere. Berto beplan al lank hierdie epiese tog, maar dit het sukkel gekos om twee weke af te knyp tussen kliënte deur wat sommer so op ’n Sondag ook met ’n perd wat ’n hoefyster nodig het, voor sy deur opdaag. Toe einde verlede jaar besluit hy dis nou of nooit. Hy het met sy perde geoefen, en verlede maand was hy, sy ma Wilna en sy perde Jacko en Con, gereed vir die groot trek van Ceres tot in Kuruman. Die eindpunt is waar sy ouers woon en waar hulle Arabier-perde teel. Berto en sy ma (sy “agterryer” in ’n bakkie) het die pad gevat. Die perde was in die perde-treiler, die hooi, lusern en kragvoer op die bakkie, en so ook sy rytoerusting, ’n yskas, proviand en slaapgoed vir twee weke. Die perde is afgelaai by Karoopoort buite Ceres, vanwaar hy Verlatenkloof uitgery het in die rigting van Sutherland. Hy was skaars in die saal toe ’n bakkie langs hom stilhou. ’n Man met wie hulle op Ceres gesels het, het weer iemand anders vertel, en hy nooi hulle om die eerste aand by hulle te oornag. En so het dit die hele rit gegaan, vertel Berto. Daarna moes hulle by ’n vriend van dié nuwe kennis slaap en toe weer op sy ander plaas verder op die roete. Die eerste dag het dit gereën en die 50km het maar geknor, so met een perd onder die saal en die ander een aan die hand. Hy het besef hy sal soggens vroeër moet wegtrek, want ná vier-uur behoort hy nie te ry nie. Die perde moet eers droogword, want hulle mag nie natgereën, of natgesweet, die nag in die koue staan nie. Die roete het hulle op grondpaaie geneem, verder na Fraserburg. “Ons het nie slaapplekke beplan nie, ons was reg om langs die pad te kamp. Maar ons is in mense se huise genooi - vir ete en ’n lekker warm bad en bed. “Die mense was oral wonderlik gasvry.” Tussen Fraserburg en Loxton het hulle die eerste keer onder die volmaan geslaap. Met die perdevoer toe in die treiler, het hulle beddens knus bo-op gepas. Op dag ses, vertel Berto, het hy “ ‘n klein foutjie gemaak” toe hy tot 92km deurgedruk het na Carnarvon. Die volgende twee dae was die perde moeg en hy het baie gestap, soms langs die perde. Van Carnarvon is hulle met drie oornagte tot in Prieska. Oral het die perde in kraaltjies oornag, met water van die gashere. Op pad na Van Niekerkshoop het Berto verdwaal en die dag 80km afgelê – wat meer sou wees as ’n vriendelike boer en sy vrou nie vir hom al die plaashekke oopgemaak het sodat hy kon kortpad ry nie. “Teen daardie ryd het ek nie meer die perde se gange gevarieer nie, maar heelpad op ’n stadige draffie gery. “Ek het die handperd se pote dopgehou – die agtervoet moet in die voorvoet se spoor trap, dan doen ons 10km/u. Met stap is dit so 6, 7km of 8km/u as hulle vars is. Galop is 20km/u, maar dis te vinnig om hierdie afstande vol te hou.” Dit was koud snags en die perde het komberse gedra om hulle energie te bespaar. Van Griekwastad het hulle die pad gevat verby Daniëlskuil en die laaste 55km na Kuruman. Berto se pa het hom op sy eie ryperd, Fareez, 10km voor die dorp ontmoet en die laaste ent saamgery. “Ek was maar op my senuwees. Mens wil mos hê alles moet reg loop. Ek het die perde genurse met spiersalfies al was dit seker nie eers nodig nie en ek het mooi na hul hoewe gekyk. Eintlik is ’n perd die volmaakte atleet. Vir homself het hy nie nodig gehad om in te vryf nie. Om seker te maak dat hy nie skawe nie, het hy sonder onderklere onder sy rybroek op sy uithourit-saal gesit. Die gogga het Berto nou behoorlik gebyt. By die huis staan ’n jong Arabiertjie genaamd Hamdan, wat nou sal ingery word vir die volgende groot rit wat beplan word vir oor drie jaar – 1000km in tien dae!
More
News
|