Pierré is SA se Ovaalbaankoning
2009-06-11
Sieb Sieberhagen
PAARL het nog ’n SA kampioen. Pierré Kotze, uitblinker ovaalbaanrenjaer, is op 30 Mei in Bloemfontein gekroon as die SA Kampioen in die afdeling 2,1 liter omgeboude produksiemotor-klas (modified saloon). Hy jaag met ’n Opel Astra. Sedert 1995, toe hy amptelik aan ovaalbaanwedrenne begin deelneem het, het hy reeds verskeie kere met die louere weggestap. Hy jaag tans vir die Worcester-motorklub waar sy pa, Piet, die aansporing vir dié belangstelling, ook ’n kranige deelnemer was. Van sy prestasies sluit in, klubkampioen (4 keer), streekkampioen (4 keer), 4 keer ’n tweede plek by die Suid-Afikaanse kampioenskap, 3 keer die Wynland-kampioen en een keer die Klein Karoo-kampioen op Oudtshoorn. In 2004 het hy ook teen ’n besoekende Europese span as algehele wenner uit die stryd getree. As jy binne 20 sekondes om ’n 500 meter ovaalvormige kleibaan wil glip, moet jy jou storie ken, vertel hy. “Met tussen 5000 en 8000 rewolusies wat onder die enjinkap brul, is dit gly-gly om die draaie. Al die pad in tweede rat. Jy moet so vinnig as moontlik voor kom en dan jou posisie behou. “Daar is nie ’n beperking op die hoeveelheid deelnemers nie en met elke kompetisie is daar vier wedrenne van tussen 10 tot 15 rondtes. Dit is voet in die hoek, al die pad. “Dit is ’n nie-kontak sport, maar dit gebeur dat jou motor aan ander deelnemers se motors raak. “Ek was al in ongelukke betrokke, maar gelukkig nog nie ernstig nie. Ons let veral op na veiligheid, want ongelukke kan beslis gebeur,” sê hy. En Kotze is nie ’n onbekende in Suid-Afika nie, want hy het al omtrent op elke ovaalbaan deelgeneem. “Dit is ’n duur sport, maar gelukkig het ons borgskappe wat ons aan die gang kan hou.” Kotze, ’n gekwalifiseerde motor-elektrisiën, werk saam met sy pa by Wynland Auto Electrical in die Daljosafat industriële gebied. Hulle kundigheid met motors kom handig te pas wanneer die ombouings gedoen word. “Hier in die Paarl is daar meer as 20 ovaalbaanjaers. Baie neem in Worcester deel omdat daar twee klubs is en ook in Kraaifontein. “En daar is nogal baie mense wat na die wedrenne kom kyk. “Ek het ’n lekker ondersteuningspan en my famiilie is groot ondersteuners,” sê hy. Vir die volgende paar maande, terwyl dit af-seisoen is, gaan herstelwerk gedoen word aan die Astra nadat dit in ’n ongeluk betrokke was. “Ons moet slaggereed wees wanneer die seisoen weer in September afskop,” sê hy.
More
News
|