Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Soek hierdie boer ’n vrou?

Soek hierdie boer ’n vrou?
 
2009-06-11

Lise Beyers

DIE land is aan die gons oor die aantreklike 44-jarige wynboer van Franschhoek wat ingeskryf het vir KykNet se realiteitsprogram, Boer-Soek-’n-Vrou.

Die vrou wat uiteindelik by Franschhoek-wynmaker Pieter H se hart sal steel, sal net so ’n passie vir wyn moet hê as hyself.

Sy ideale maat moet ook aantreklik, atleties, eerlik en pret wees, sowel as liefdevol en saggeaard.

Maar van die staanspoor af praat Pieter liewer oor die wyn, as die liefde.

Hy is ’n boorling van Franschhoek en behalwe vir die puik wyn wat hy op sy skilderagtige plaas produseer, het hy ook talle ander sakebelange in die landbousektor.

As jong man was hy ’n kranige rugbyspeler en vandag is hy ’n ywerige bergfietsryer.

“Eintlik was die hele inskrywing in Boer-Soek-’n-Vrou ’n grap. Die dames wat vir my werk, het gedink dat dit tyd is dat ek nou nie meer so alleen loop nie, en hulle het my ingeskryf.

“Die inskrywing is op die laaste dag van aansoeke ingestuur, en binne enkele ure is ek geskakel deur die organiseerders en gevra om na MNet se kantore te gaan.

“Op daardie stadium het ek uit die storie probeer kom, maar dit was reeds te laat.”

En so het Pieter se vreemde avontuur begin.

Ná die eerste opname waartydens die tien boere bekend gestel is, moes Pieter twee vriende nadertrek om te help om deur ’n reuse sak vol liefdesbriewe te snuffel. Hieruit moes hy toe tien vroue kies.

Daarna is vinnige afsprake met elkeen van dié meegemaak om uiteindelik op ’n kortlys van drie vrouens te besluit.

En tussen-in het wulpse losloop-vrouens wat Pieter se identiteit vasgestel het, hom oorweldig met telefoonoproepe en e-posse.

Teen hierdie tyd was Pieter behoorlik moeg gekuier met Boer-Soek-’n-Vrou, maar toe het nog ’n week voorgelê waartydens hy hierdie drie dames aan huis moes vermaak, totdat hy op ’n enkele vrou besluit het.

“Dit was baie erg. Die kameras was van vroegoggend tot laataand in ons gesigte gedruk en ek het geen privaatheid gehad nie. En ek was ook gefrustreerd dat ek nie met my daaglikse werk kon voortgaan nie.”

Maar hy het dit wél geniet om hierdie drie vrouens ’n bietjie te leer van die groot liefde in sy lewe - wyn en wynboukunde.

Vir twee dae lank het hy vir hulle lesings hieroor gegee, binne en buite die wingerd, asook wynproesessies.

En ’n besoek aan sy tuisdorp, Franschhoek, sou ook nie volledig wees sonder ’n maaltyd by een van die puik restaurante daar nie.

“Ons het wel goeie tye gehad, maar dit was ’n emosiebelaaide week, vol vroumens-issues.”

Pieter het op die ou einde besluit op sy finale dame en binnekort word die laaste episodes opgeneem.

Dan, sê hy, kan hy voortgaan met sy lewe en werk.

Maar as jarelange alleenloper, kan ’n mens nie help om te wonder of hy wél eintlik wil trou nie.

“Môre,” sê Pieter. “Maar net met die regte vrou.”

Boer-Soek-’n-Vrou aanhangers sal na die volle reeks moet kyk, wat op 17 Julie op KykNet begin, om vas te stel waar Pieter se hart lê.

* A Franchhoek winemaker is a contestant in the Afrikaans reality show, Boer-Soek-’n-Vrou.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za