Vereer vir gemeenskapsdiens
2009-06-18
TYDENS die jaarvergadering van die Wellington-tak van die ATKV is daar, vyf gemeenskapsdienstoekenningsoorhandig. * Attie Barnard is erken vir sy bydrae tot misdaadvoorkoming in Wellington. Hy bedryf ’n eposlys waar plaaslike misdaadinligting na bykans 4 000 mense deurgee word. * Callie Theron het die toekenning ontvang vir sy bydrae tot die bewaring van Wellington se geskiedenis. Hy is betrokke by die Limietprojek wat besig is om die geskiedenis van Wellington straat-vir-straat na te vors en op te teken. Ou inwoners word opgespoor, hul stories aangeteken en hul ou foto’s gedokumenteer en versamel in samewerking met Wellington Museum. * Daar is bitter min Wellingtonners wat nie vir Henry Slamet ken nie. Hy is reeds 56 jaar skoenmaker in Wellington, met sy besigheid in Fonteinstraat. Hy kry die toekenning vir jarelange diens, deur die gemeenskap “op hul voete te hou.” * Inspekteur Pierre Hugo is polisiesektorbestuurder van die landelike area waar hulle onder andere plaaswerkers oplei en ontplooi in misdaadbekamping. Statistieke is so pas vrygestel wat toon dat misdaad in dié gebied die afgelope jaar met 24% gedaal het. * Die uittredende ATKV-voorsitter, Daan Spamer, het ook ’n toekenning ontvang vir sy volgehoue ywer en toewyding aan die ATKV-tak die afgelope 12 jaar waarvan sewe jaar as voorsitter van dié aktiewe tak.
More
News
|