Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Lexi is haar pa se oogappel

Lexi is haar pa se oogappel
 
2009-06-18

Sieb Sieberhagen

DIE Van Dyks van Noorder-Paarl se roetine het so effens verander vandat baba Lexi (verkort van Alexia) deel is van die huishouding.

Pa Ernst, bekende rolstoelatleet en wenner van verskeie rolstoel-marathonne reg oor die wêreld, is die eerste een om te erken dat sy oogappel die lewe nou so ’n bietjie “anders” gemaak het.

Maar al is die verandering drasties, is dit ’n lekker verandering, vertel hy.

“Sy was darem beplan, so ons kon ons daarvoor voorberei.”

En wat gemaak as Pa Ernst nie weet hoe om die kleinding van byna agt maande se nukke en grille te hanteer nie?

“Ag wat, dan Google ek maar om uit te vind,” glimlag hy.

“Ek het darem al ’n paar bababoeke gelees en geniet dit baie om haar vordering dop te hou.

“Ek help haar met kruipoefeninge en ons is verbaas oor hoe sterk die klein juffroutjie is.

“Seker ook atleties soos Suzanne en ek, maar ’n mens kan ook nie te veel te gou verwag nie. Daarom dat die handboeke en Google-inligting handig te pas kom.”

Ernst is maar beskeie wanneer dit kom by wat sy bydrae is vandat Lexi by hulle aangesluit het, maar ma Suzanne voeg dadelik by dat Ernst baie lief is vir kosmaak, handig is met inkopies en dat Lexi se etes vir hom vir groot pret sorg.

“Om poeding vir haar in die aand te gee, is een van die hoogtepunte,” erken hy.

Hy is die afgelope drie jaar ook ’n kranige koivis-aanhanger - baie geesdriftig en met reg, want van sy visse het al met die louere weggeswem in kompetisies.

En wat sal enige pa dan doen? Hy sal vir sy dogter ook ’n vissie aanskaf. So gesê, so gemaak.

Lexi se koivis heet Winnie-Poo en Ernst moes onlangs ook ’n net oor die koivisdam aanbring om dit te beveilig. “Sy word vinnig groot en haar entoesiame kan haar in die water laat beland.”

Behalwe die visse is daar twee honde: Izzie, ’n Retriever en Luca, ’n Husky, albei groot maats met Lexi.

Ernst en Suzanne het albei in gesinne grootgeword waar die Vadersdag-tradisie elke jaar gevier word en beplan om dit ook in hulle huishouding te doen.

Sondag gaan hulle as familie saam uiteet om Ernst se eerste Vadersdag te vier, iets waarna hy baie uitsien.

“Sy is ’n baie maklike baba en as almal so sal wees, kan ’n mens maklik meer kinders hê, maar ons moet haar eers groot kry,” sê hy.

Ook te verstane, want Ernst en Suzanne (’n werkende ma) het ’n besige lewe. In Julie is hy op pad Alaska toe om aan ’n 400km marathon oor sewe dae deel te neem.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za