Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Storie-aand herroep Fonteinstraat se ou dae

Storie-aand herroep Fonteinstraat se ou dae
 
2009-06-25

Marguerite Lombard

DAAR was ’n tyd toe ’n vars snoek nog 25 sent gekos het, toe winkels swaar hout-toonbanke gehad het, en mense groceries “op die boek” gekoop het. Toe mense geweet het wie jou bure is, en kinders in die straat kon speel.

’n Storie-aand oor Fonteinstraat se mense is verlede week by die Breytenbach-sentrum aangebied deur die Lemietprojek.

Dit is deel van ’n projek om straat-vir-straat die mondelingse geskiedenis van Wellington op te teken.

Die eerste vraag wat by mense opkom, is: waar vandaan kom die naam Fonteinstraat?

Dis ’n maklike vraag, want die ouer mense wéét van hierdie straat se fonteine. Daar was fonteine bo in die straat naby die Boland-stadion tot onder waar die KSUT (kollege) vandag is. Die bekendste fontein was die een wat binne in die straat gesit het.

Wilna Kirsten (née van der Merwe) het op die hoek van Malherbe- en Fonteinstraat grootgeword, waar haar pa op hulle groot erf groente gekweek het wat hy weer in sy winkel verkoop het.

Op hulle erf het hulle twee standhoudende putte gehad, en voor hulle erf – in Fonteinstraat self – was ook ’n fontein.

“Ek dink die aar wat al die fonteine gevoed het, het uit die berg gekom, deur die Blouvlei en dan al met Fonteinstraat af.

“Oorkant ons grond het Fonteinstraat skielik uitgeswenk en baie wyer geword, en daar binne in die straat het ’n put gestaan. Dit is uitgebou en het redelik hoog bokant die straat uitgestaan met ’n sementblok bo-op, en daar het ’n waterpyp uitgekom - nie met ’n kraan of iets nie, net die pyp en water wat dag en nag daar uitgevloei het.”

Hier het mense nie huiswater gehad nie, water kom haal en wasgoed gedoen en hulle wasgoed op die sementblad laat droog en bleik in die son.

Dan was daar die storie van die konfytfabriek se nuwe boiler. Dit is uit die Kaap bestel en arriveer op Wellingtonstasie of ’n Vrydag.

Die swaar stoomketel is met ’n sleepwa en trekker al met Fonteinstraat na die fabriek, maar net voor die prokureurs en tandartse sak die wa se swaar ysterwiele deur die teer, en die wa gaan sit vas tot op sy as.

Almal was dit eens – ’n fontein was te blameer.

Wie sou wou vergeet van die straat se mense: Oom Schkolne, die Vercuils en Van Eedens, die Picadillies, van Anna Albertus en Dampie Fransman, en tannie Zielstroff se gevlegte bollatjies – een op elke oor.

Dan was daar die Samsons met hulle baby grand klavier, Tollie se haberdashery asook Frank Brink se taxi en sy pa wat almal Ryk Oom John Brink genoem het.

Of hoe almal – wit, bruin, boer en Jood, ryk en arm – in een straat gewoon het; hoe kinders in die straat kon speel, en hoe kwaad die ooms geraak het as hulle oor die draad ryp vye gesteel het.

Of van die Piet Retief Skool op die hoek van Pentz- en Fonteinstraat (met die bynaam Koffiemoer).

Die viswinkels, kafees en slaghuise, algemene handelaars en skoenmakers.

Of hoe lekker dit was om by mnr Naik se winkel suurvytjies te koop?

Rheeder se slaghuis was nog vir almal bekend met die twee Rheeder-seuns Hannes en Frikkie agter die toonbank. Dit was nog die dae wanneer mense se vleisbestellings afgelewer is.

By Rheeder is dit deur oom Japie Louw – of Japie Skeeloog soos party hom genoem het – gedoen. Sy omslag-manier van fietsry op die fiets met sy swaar bestelmandjie voor, was ’n bekende gesig in die dorp.

Verder op in die straat het die Smits gewoon.

Niemand kon meer onthou hoekom hulle die Oliekoeke genoem is nie.

Dan was daar Michael Brink se hoenderboerdery, en die skakelhuis waarin oom Boontjie le Roux gewoon het. Een herinnering vloei in ’n ander een, en mense wat lankal nie meer daar is nie, kom staan in ons midde.

Mense wat die storie-aand bygewoon het, het een ding besef: ou geboue mag gesloop word, woonstelblokke kan in hulle plek verrys, mense kan weens politieke redes gedwing word om uit ’n woonbuurt te trek, maar tog bly die herinneringe na baie dekades nog vars in die mond van die storieverteller.

* Fonteinstraat het in die laaste jare geheel en al van gedaante verwissel en min van die ou Fonteinstraat het oorgebly.

’n Ouwêreldse uitstalling van ’n tipiese outydse “sitkamer” is vir die volgende maand in die lesinglokaal by die Breytenbach-sentrum te sien.

Daar hang foto’s van weleer, asook foto’s wat ’n groepie leerders van Hillcrest Primêr geneem het tydens onderhoude met die storievertellers.

Tydens jou besoek kan jy ook luister na die band waarop Sylvia le Cordeur vertel van haar stalletjies wat sy destyds op Marchandplein asook in Victoriapark bedryf het. Hierdeur het sy al haar kinders laat leer.

Daar is gebruiksartikels van Henry Slamet se Skoenwinkel wat sedert vervloë dae gebruik is om skoene te maak.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za