Wellingtoners was baanbrekers
2009-06-25
Hester de Kock
SOOS die res van Suid-Afrika, weet die meeste Wellingtonners ook nie dat die Boeremusiek-genre gevestig is deur Wellingtonners en dat drie van hierdie lede, almal jeugdige tagtigjariges en plus, nog al die jare hier woon nie. Nog ’n interessante feit is dat nie een van hulle enige musiekopleiding gehad het nie - ’n bekende feit rakende die grootste gros boeremusiekmusikante van ons land. Hulle is Francois en Dalena Malan en Rida Crouse. Francois en Casper Hoogenhout het saam ingenieurswese studeer aan die Universiteit van Kaapstad gedurende die veertigerjare. Casper, ’n trekklavierspeler, leer vir oom Francois kitaar speel en gou is hulle ’n gewilde tweeman-orkes. Gedurende hierdie tyd keer Casper se broer, Imker Hoogenhout junior terug vanaf Johannesburg, waar hy as eerste Hawaiise en Spaanse kitaarspeler uitgesaai het. Hulle drie het gedurende 1945 af en toe halfuur-programme uitgesaai, uit die ateljees in Strandstraat, Kaapstad. Nadat hulle afgestudeer het, vestig Francois hom as vyfde geslag op die familieplaas Welbedacht en Casper verhuis na Johannesburg. Hennie Crouse neem sy plek oor as trekklavierspeler. Pas terug van die oorlogsfront begin hy en ’n aantal boere die Hexberg Garage - die perseel nog daar. Dié drie word die gereelde uitsaaiers oor die “draadloos”, van drie nuwe programme: Jolyt op Jakkalsfontein, Bloekombossie en Vrolikheid in die Koffiehuis - beter bekend as die Koffiehuiskonserte. Hierdie drie programme is geloods deur die S.A.U.K. om Afrikaanse musiek te promoveer. Hulle drie saai ononderbroke uit vanaf 1948 tot 1956. Ek het as Boesmanlandse plaaskind geluister na dié Koffiehuiskonserte, op die draadloos, ’n enorme toestel in ons sitkamer. ’n Handvaardige en innoverende pa het ’n windlaaier gebou vir opwekking van elektrisiteit vír ligte asook die draadloos. Op hierdie wyse is ons deur die S.A.U.K. bekend gestel aan die wonderwêreld daarbuite. Nooit kon dink dat ek as volwassene, twee orkeslede en drie medewerkers aan hierdie programme sou leer ken tydens my verblyf op Wellington nie. In ’n vorige artikel het Christine Siebrits, dogter van Imker Jr, volledig uitgebrei oor die Koffiehuis-konserte en die gewildheid, nasionaal, van hierdie drietal as orkes. In Augustus 1946 wen dié Wellington drietal die eerste Boeremusiekkompetisie. Oom François onthou: “Die kompetisie is gehou in die S.A.U.K. ateljees in Strandstraat. Ons het nooit saam met ander opgetree nie. Ek weet nie wie die beoordelaars was nie, maar hulle het blykbaar net geluister en so besluit. “Daar was nie baie deelnemers nie sodat uitdunne nie nodig was nie. Ek kan nié onthou dat ons enigiets gekry het nie. Die vergoeding vir die ander programme is in kontant aan Imker gegee en hy het die paar pond aan ons gegee.” Hulle moes elke tweede Donderdagaand vanaf Wellington per motor Kaap toe ry. Oefensessies was op Optenhorst, familieplaas van die Hoogenhouts, wat ook nie te voet bereikbaar was nie. Oom Francois het nie ’n motor besit nie, maar Hennie en Imker wel. Dit het dus goeie beplanning gevra in tyd, geld en werksomstandighede om die “stokperdjiewerk” suksesvol te volvoer! Francois vertel oor hierdie uitsendings: “Ons was informeel geklee. Dit was lewendige uitsendings met ’n groot mikrofoon wat in die middel van die vertrek gehang het en die balans van klanke is bepaal deur jou afstand vanaf die mikrofoon. Sodra die rooi lig aangaan, word alle geluide en klanke oor die eter uitgesaai!” Met die Koffiehuiskonserte en programme wat later op omliggende dorpe uitgesaai is, het hulle aandpakke gedra en die soliste was almal formeel geklee. So het Wellington, Malmesbury en andere aan die beurt gekom - almal direkte uitsendings wat telefoon na die ateljee herlei is. Die Wellington drietal is deur verskeie soliste en kunstenaars wat verskillende instrumente bespeel het, bygestaan. Talent, jeug, skoonheid en liefde het altyd ’n manier om paaie te kruis. Op hierdie manier het Francois en Hennie ook hulle “Waterloo” gekry deur te trou met die soliste wat saam met hulle opgetree het. Dalena van die Paarl en haar vriendin Rida van Ceres. Imker was ouer as hulle en reeds getroud. Imker Hoogenhout is oorlede in 1974 en sy broer Casper in 2003. Kort voordat Casper oorlede is, het hy gekuier by Francois en Dalena op Hermanus. Toe het die twee vir oulaas saam musiek gemaak; vir die eerste en laaste keer na 1945. Dalena en Francois, eens baie betrokke by gemeenskapswerk, woon nou op Wellington dorp en beleef goeie gesondheid. Hennie Crouse het vir Rida in 1990 ontval. Sy woon nog op Wellington en sing steeds in die senior koor. Sy het so onlangs as 2005 nog opgetree as soliste. Baie plesier is verweef in die lewe van hierdie drietal gedurende die tyd dat hulle saam gewerk en gespeel het. Opofferings soos min slaap en rus en selfs gevaarlike oomblikke was ook deel van die lewensverrykende ervarings. Ná die ontstaan van die Koffiehuiskonserte het hulle vir etlike jare soortgelyke konserte op Ashton in die Langeberg inmaakfabriek aangebied. Hierdie optredes is nie uitgesaai nie. François, Dalena en Rida onthou met nostalgie ’n besondere aand ná ’n optrede in Ashton. Faure Loots het saam met hulle gery in Hennie se motor, toe dit breek en hulle al die pad terug na Wellington gesleep moes word, met al die insittendes in die voorste voertuig gebondel. Die tou het herhaalde male deur die nag gebreek, en uiteindelik het hulle met dagbreek dit oor Bainskloof se pas gemaak - en dadelik gaan werk. Onvergeetlike dae. * In Julie 1990 het die ACVV ’n boeremusiekaand aangebied vir liefdadigheid waar Francois, Dalena, Rida en Faure Loots (pianis) weer saam opgetree het. Hennie was teenwoordig, maar kon as gevolg van ’n beroerte nie meer sy regterhand gebruik nie. Dit was ’n besondere aand omdat die eerste lewende koffiehuisprogram op 10 September 1948 vanaf die Wellington stadsaal aangebied is met die Wellington Drietal as orkes en Faure Loots as pianis.
More
News
|