Duif kies kortpad huis toe
2009-06-25
TOE ’n beseerde wedvlugduif letterlik uit die bus geval het, het hy nie loop lę nie, maar sommer kortpad gekies huis toe. Cecil Butler het verlede Maandag sowat 500 duiwe van verskeie Paarlse eienaars na Touwsrivier geneem vir ’n oefenvlug terug na die Paarl. Die duiwe was agterop sy bakkie in spesiale houers wat vir die vervoer van hierdie duiwe gebou is. Toe hy een van die houers oopmaak om die duiwe te laat vlieg, het een van hulle reguit grond toe geval. “Ek het hom probeer vang, maar hy het soos ’n volstruis gehardloop,” vertel Butler. “Uiteindelik het hy tot onder my bakkie gehardloop, en toe ek onder in loer, kon ek hom glad nie sien nie. Ek het ’n entjie verder gery, en toe weer gekyk, maar niks. My hond Prins en ek is selfs die veld in om te soek, maar ons moes later tou opgooi.” Butler het die eienaar van die duif laat weet van die voorval, en hulle het saam gehoop dat die duif sy pad teruggevind het na die ander voëls en dan sou terugkeer Paarl toe. Hy en Prins is dus terug na die bakkie en is huis toe. Teen die tyd wat hulle daar gearriveer het, was al die duiwe reeds terug, behalwe die een wat uit die houer geval het. Butler en die duif se eienaar het teen daardie tyd aangeneem dat die duif se dae verby is. “Maar twee dae later was ek by my bakkie, toe spring die duif net so van onder my motor uit.Hy was vol oliekolle en baie dors en honger. Al wat ek kan dink is dat hy op die voorwiel se as gespring het en al die pad tot in die Paarl daar vasgeklou het.” Behalwe vir ’n inwendige besering wat die duif tydens die rit op pad na Touwsrivier moes opgedoen het, is hy spekvet en gesond. “Maar sy vliegdae is beslis verby. Tans sterk hy in die siekeboeg aan, en vandaar sal hy hom aansluit by ander afgetrede duiwe in die aftree-oord.” * A Paarl racing pigeon hitched a ride home from Touws River.
More
News
|