Groot gees van Wellington se stem raak stil
2009-06-25
Christine Siebrits
WELLINGTON is armer gelaat met die dood van ’n beminde oudburgemeester, Con Hofmeyr (83), verlede Vrydag. Almal wat vir Con geken het, sal beklemtoon dat hy ’n mens-mens was, die middelpunt van mense by enige geleentheid. Hofmeyr het diep spore in die dorp getrap. PH Nortjé, die skrywer, het dikwels van Con se pittighede en manewales in sy stories gebruik. Hy was ’n ware rasieleier en was een van die bemindste US dirigente toe Intervarsity tussen Stellenbosch en die Ikeys nog Intervarsity was. Hy is in 1925 in Clocolan in die Vrystaat gebore en het sy skoolloopbaan op Ficksburg deurloop, waarna hy hom as siviele ingenieur bekwaam het op Stellenbosch. Dit was daar dat hy vir Edith Joubert, die dogter van Dick en Adrienne Joubert van Provence in Wellington, ontmoet het. Hierdie twee mense was destyds albei lede van oom Pietie le Roux se boere-orkes. Con het die trompet bespeel en Edith die viool. Con en Edith is in 1953 op Wellington getroud en het verhuis na Bellville waar Con by die Bellville Munisipaliteit werksaam was en Edith musiekonderwyseres was by Bellville Hoër. Ná Dick Joubert se dood het hulle in 1955 op die plaas Provence in Wellington kom woon. Con het by die Wellington Munisipaliteit begin werk en was later die stadsingenieur. Hy was later ook burgemeester van Wellington en het ook gedien in die Kaaplandse Uitvoerende Raad. Eendag het Con besluit dat hy gaan boer en het toe voltyds ’n hoenderboer geword. ’n Ander belangstelling was bouery. Hy het al die bouery op die plaas self behartig, inslutiend die onthaalsale wat opgerig is toe Provence in 1989 ’n bekende onthaalsentrum geword het. Sy liefde vir musiek het hy bly uitleef as leier van ’n mannekoor. Al was hy die laaste tyd aan ’n rolstoel gekluister, het hy nog steeds getrou funksies bygewoon. Hy word oorleef deur sy vrou Edith, sy kinders Adrienne en Nico, en hul gesinne. Die begrafnis is vandag om 15:00 uit die NGK Wellington-Noord.
More
News
|