Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Leon Groenewald kom huis toe uit België

Leon Groenewald kom huis toe uit België
 
2009-07-09


’n FRANSCHHOEKER, Leon Groenewald (30), het onlangs uit België teruggekeer met ’n diploma en baie praktykervaring as pasteibakker.

Sy werkgewer was Kristof Locus van Schepdaal-Dilbeek, die dorp wat verbroeder het met Stellenbosch/Franschhoek.

Leon het voor sy vertrek gesê: “My verlange om terug te keer na SA was groot, maar ek weet dat ek hier die kans gekry het om ’n mooi beroep te leer. Ek sal dit nooit vergeet nie.”

Hy is dankbaar teenoor die bakker-bedryfleier Kristof Locus en dr Jef Valkeniers, ere-burgemeester van Dilbeek en die gees agter die uitruilprogram tussen Vlaandere en Suid-Afrika, saam met die NGO Volens in Brussel.

Leon het in die bakkery Locus vir 18 maande die beroep geleer en ook aandlesse gevolg in die vakskool vir die voedingsbedryf in Brussel.

Dit was baie harde werk van twee-uur in die oggend tot 12:00 smiddae. Dan het hy nog klasse gehad van 17:00 tot 21:00 in die aand.

Hy sê dat hy in Vlaandere baie tuis gevoel het omdat hy weens sy Afrikaanse agtergrond die Vlaams wat die Belge praat, kon verstaan.

Hy was een van vier Suid-Afrikaanse jeugdiges (twee seuns en twee meisies) wat ingewoon het by die familie Valkeniers–van Zyl wat ook ’n oog op hulle gehou het en selfs vervoer aan hulle verskaf het.

Leon het hard gespaar in België en hoop om ’n selfstandige vennoot te word by die Huguenot sjokoladewinkel in Franschhoek by wie hy in die verlede reeds nege jaar gewerk het.

Hy hoop om sy besigheid as pasteibakker af te skop met die Bastillefees dié naweek.

Dr Jef Valkeniers het vroeër (1997) reeds vir vennote Danny Windvogel en Denver Adonis gehelp toe hulle ook in België hul beroep geleer het.

Die sjokolade-onderneming in Franschhoek het tans 18 mense in diens. Die sjokolade, die masjiene, die vorms en ’n deel van die verpakking van die Hugenote sjokoladefabriek kom uit België.

Kristof Locus is baie tevrede met Leon en is bly dat ’n ander Suid-Afrikaner uit Franschhoek, Morné September op 1 September sy plek inneem vir verdere opleiding.

“Bakker wees is ’n harde beroep. Leon is nie alleen ’n harde werker nie, maar hy is ook altyd opgewek en vrolik,” sê Kristof Locus.

In September sal Gavin Johnson ook uit Franschhoek gaan vir opleiding en Tracy de Vries van die Paarl keer terug vir nog een jaar opleiding in die bereiding van koue vleisprodukte.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za