Ná 50 jaar is Margie gevind
2009-07-09
Devidean Moses
DIE hunkering na hul kinderdae in die Paarl, en ’n brief in die Paarl Post, het daartoe gelei dat twee Kapenaars Sondag herenig is met die vrou wat hulle help grootmaak het. “Ek kan nou nog nie glo dat ons Margie na 50 jaar gevind het nie,” sê ’n oorstelpte Angela Robhart (64) nadat sy en haar suster Irene Choritz (61) Sondag herenig is met Margie Carolissen (née Fortuin), wat nou 74 is. Margie het saam met haar gesin op die werf van die prokureur Sollie Miller en sy vrou Blanche Miller gewoon te Victoriastraat 3 in die 1950’s en 1960’s. Dis hoe Margie die oppasster en “tweede ma” van die Miller-dogters geword het op 15-jarige ouderdom. Angela was drie jaar oud en Irene was een jaar oud toe Margie aangestel is om hulle te help. Tien jaar daarna het die Miller-paar ’n seun, Anthony, gekry, en Margie het ook ’n kort ruk na hom omgesien. Margie het op daardie stadium self haar eerste seun, Douglas, gehad en ’n jaar daarna ’n dogter, Annie. Sy het toe besluit om nes te skop in Hendrikastraat, Noorder-Paarl, waar die Miller-dogters gereeld gaan kuier het. Dis eers in 1974 toe Margie en haar gesin na Ribbokstraat moes trek dat hulle kontak verloor het. “Ek kan nog steeds onthou hoe Margie vir Mamma help vrugte inlê het en hoe sy ons linte gestryk het. Sy het saam met ons daagliks speletjies gespeel, en oral saam met ons gegaan,” onthou Irene. Angela vertel: “Elke keer wanneer ek die van Fortuin gehoor of gesien het, het ek aan Margie gedink. Ek het besluit om ’n brief in die Paarl Post te plaas, om haar so gou as moontlik te vind. “Dieselfde dag dat die koerant verskyn het, het haar kleinseun Neil my gekontak om te bevestig dat sy ouma nog leef. “Ek was so opgewonde dat my kinderherinneringe deur my kop geflits het. “Ek het onmiddellik my suster, Irene, gebel om die blye nuus met haar te deel. Ons het besluit ons moet so gou as moontlik vir haar gaan kuier.” Nadat ’n afspraak vir Sondag gemaak is, kon nie een van hulle slaap nie. Margie het haar slapies begin aftel, want sy was bang iets kon skeef loop voor die tyd. Sondag het hulle vir Neil in die middedorp gekry, en hy het hulle begelei tot by Margie se huis in Chicago. Met die drie gesellig saam sou jy nooit sê hulle het mekaar 50 jaar laas gesien nie. “Sy lyk nog baie dieselfde en het nog dieselfde sin vir humor as destyds.” Douglas Fortuin (51) sê: “My ouma is ’n baie private mens en sy wou nooit sommer vir ons van haar stories vertel nie. “Eendag het ons lekker gesels en ouma het ook begin vertel van die Millers. “Sy het altyd gewonder wat hulle maak en of sy hulle ooit eendag weer sal sien.” Margie het die weersiens net so geniet: “Hulle was baie goeie kinders en dit was vir my ’n wonderlike ervaring om vir hulle te kon help grootmaak.” Volgens Angela gaan hulle probeer om voortaan elke maand oor en weer te kuier.
More
News
|