Verwaarloosde huis gevandaliseer
2009-07-30
Christine Siebrits
’n HUISIE in die historiese Bainstraat in Wellington, op die terrein van die ontwikkeling Piano Factory, word liederlik verwaarloos en deur bosslapers gevandaliseer. Aanvanklik was daar die gevoel dat hierdie die huis van Martha Solomons, Duchess of Stamford was, maar daar is later bewyse gevind dat Martha Solomons se huis aan die oorkant van die straat was. Die huisie te Bainstraat 51 behoort aan Aslo, die ontwikkelaars van die woonstelblok, Piano Factory. As ’n mens by die vensters inloer sien jy nog die pragtige ou houtplafon met sy sierlike balke. Maar o wee, die stank van gemors en verwaarlosing is reg rondom te bespeur. Op die stoep is die oorskietkos en gemors van diegene wat snags daar slaap. Agter is tekens dat daar ingebreek word om pype en ander goedere te steel. Gate is in die muur en deure gekap en die bad is gevul met bourommel. Die diefwering word ook stuk-stuk weggedra. Die plastiek-swembadjie agter die huis is gevul met ’n aaklige swart gemors en in die pragtige Spruitrivier wat langs die huis verbyvloei is verdere tekens van gemors en afval te bespeur. Volgens Aslo se hoof, Gavin Blows, gaan die huis nou dringend beveilig word. Dit sal mettertyd opgeknap word, nadat bewaringsowerhede in die saak geken is.
More
News
|