Pasop vir dié bedrieërs wat mense probeer inloop
2009-07-30
BEDRIEËRS is steeds besig om die gemeenskap van die Paarl te fnuik. Die nuutste skelmstreke word na bewering uitgevoer deur ’n vrou met ’n vreemde ‘punk-tipe’ haarstyl met ’n pienk streep daarin. Sy is glo baie oortuigend en vol selfvertroue. Wanneer huiseienaars nie tuis is nie, oortuig sy huishulpe om toegang tot wonings te kry onder die voorwendsel dat sy reëlings getref het met die huiseienaar om opmetings te doen om teëls te lê. Wanneer sy dan toegang tot die huis kry, spring sy wel aan die werk met haar maatband, maar sodra die huishulp se rug gedraai is, krap sy rond en verdwyn met waardevolle items soos juwele. Die polisie het verskeie klagtes ontvang oor hierdie vrou se doen en late vanuit woongebiede soos Vrykyk, Roodeberg Village en Denneburg. Enigiemand wat vir hulle kan help met hul ondersoek, kan vir insp Auckland Losper skakel by 021-807-4000. * Nog ’n bedrogspul wat weer sy kop uitgesteek het, is ’n bekende een in vir besighede: Bedrieërs skakel en bestel items vir aflewering. Hulle stuur dan aan die maatskappy ’n valse bewys van ’n bankinbetaling, en in die verlede het maatskappye wel die goedere aangestuur sonder om bevestiging by hul banke te kry dat die geld wel in hul rekening inbetaal is. In ander gevalle beweer bedrieërs dat hulle per ongeluk meer geld as wat hulle moes betaal het, in die besigheid se rekening geplaas het vir hul bestellings. Die eerlike besigheidseienaar betaal hierdie bedrag dan terug, net om vas te stel dat die betalingsbewys vervals was en dat die ontvanger verdwyn het. Selfs die Drakenstein Munisipaliteit het sowat vier jaar gelede in hierdie strik getrap, wat veroorsaak het dat die belastingbetaler ’n yslike R300 000 moet betaal, weens ’n nalatige munisipale amptenaar. ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat huiseienaars niemand op hul perseel moet toelaat sonder dat hulle weet wie hulle is nie. Hulle moet ook vir hul familielede en werknemers persoonlik in kennis stel indien iemand die huis gaan besoek vir opmetings. Sy het die publiek ook gewaarsku dat as hulle op straat of by winkelsentrums genader word deur fondsinsamelaars, moet hulle ook seker maak dat hulle is wie hulle voorgee om te wees. Enige verdagte persone moet gerapporteer word aan die Paarl polisie by 021-807-4000.
More
News
|