Baie vrae ná selfmoord
2009-07-30
Lise Beyers
OP die ouderdom van 29 was Byron Lyle Rousseau se lewe so te sê volmaak, of so het dit gelyk. Hy het sy graad in chemiese ingenieurswese verwerf by die Universiteit van Stellenbosch en was besig om aan sy meestersgraad te werk. Voor hom het ’n belowende loopbaan gelê by ’n petroleumreus. Hy het ’n standvastige verhouding gehad met die liefde van sy lewe, asook die ondersteuning van sy liefdevolle ma, Hazel Petersen, en talle vriende. Maar toe kom alles sonder waarskuwing tot ’n tragiese einde, toe Byron se liggaam een oggend in die motorhuis gevind is, waar hy sy eie lewe geneem het. “Daar was geen tekens dat daar iets in Byron se lewe fout was nie. Inteendeel, hy was ’n jong man wat dolgelukkig was en alles gehad het om voor te lewe,” vertel Hazel. “Maar toe eindig dit so vinnig, en nou, selfs twee en ’n half jaar ná die tragiese voorval, is ek gelaat met talle onbeantwoorde vrae. En wanneer ek lees oor nog ’n jong mens wat sy eie lewe geneem het, dan voel dit asof ek weer op daardie donker dag op Byron se liggaam afkom. “Die gemeenskap moet bewus gemaak word van die stille nood wat jong mense ly, en sodoende verdere selfmoorde keer.” Selfmoord is niks vreemds in dié gebied nie en vanjaar veral het 19 mense hier hul lewens geneem, van wie die meeste jong mense was. ’n Maatskaplike werker het gesê dat dit soms baie moeilik is om te bepaal hoekom jong mense selfmoord pleeg, veral as daar nie ’n briefie agter gelaat is nie. “Maar die druk op kinders is groot om te presteer, akademies en op die sportveld, en dan is die druk veral erg om sosiaal aanvaar te word deur hulle portuurgroep. “Ouers moet maar van kleins af probeer om ’n baie oop verhouding met hul kinders te hê. “Ek beveel dikwels vir ouers aan om van kleins af vir hul kinders te vra: ‘Wat het vandag gebeur wat vir jou lekker was?’ en dan ook ‘Wat het vandag gebeur wat jou ongelukkig gemaak het’. “As ’n mens dit begin doen wanneer kinders kleuters is en aanhou daarmee, leer kinders dat hulle met hul ouers kan praat oor die goeie en slegte tye. “Depressie by kinders en tieners is kompleks en is volgens my aan die toeneem. Ouers moet maar bedag wees op gedragsveranderinge, soos slaap- en eetgewoontes wat verander. Wat dit moeilik maak, is dat tieners se gedrag en gewoontes dikwels ook in hierdie tyd verander. “Hulle moet veral die kind in hul gesin wat geneig is om stil te wees meer dophou.” Maar vir die gesinne van diegene wat selfmoord gepleeg het, sal daar altyd meer vrae as antwoorde wees. Hazel het aangesluit by ’n ondersteuningsgroep in die Paarl, Compassionate Friends. Hier maak mense wat ’n kind aan die dood afgestaan het kontak met mekaar en in ’n mate is dit helend om hul wroeginge met mekaar te bespreek. Rita Greyling wat hierdie ondersteuningsgroep in Noorder-Paarl lei, sê dat daar seker niks erger in ’n persoon se lewe kan gebeur as om ’n kind aan die dood af te staan nie, veral met ’n selfmoord. Sy vind dat dit vir talle mense help om met mense te gesels wat dieselfde leed deurmaak as hulself. “Ons bring mense bymekaar wat dieselfde paadjie geloop het, sodat hulle vir mekaar ’n skouer kan bied om op te leun.” Compassionate Friends vergader een keer ’n maand, en Rita kan gekontak word by 021-872-3613.
More
News
|