Vriendelike reus sterf skielik
2009-08-20
POLISIEBEAMPTES van Wellington polisiestasie is vandeesweek in rou gedompel ná die skielike dood van ’n geliefde kollega. Insp Anton van der Spuy (47) is Donderdagaand oorlede aan hartversaking. Hy was ’n bekende gesig by die Wellington polisiekantoor, nie net vir sy toewyding as polisieman nie, maar weens sy openhartigheid en vriendelikheid. Vanjaar was Van der Spuy se dertigste jaar in die polisiemag, waarvan die meeste hiervan in Wellington was. Die stasiebevelvoerder van Wellington, supt Johan Barkhuizen, het gesê dat hulle almal ’n ware vriend en betroubare kollega verloor het. “Ons is stomgeslaan deur sy skielike heengaan en hy gaan baie gemis word.” Van der Spuy se begrafnisdiens was gister. Hy word oorleef deur sy vrou Christa, en seuns Arno (18), André (16) en Schalk (12).
More
News
|