Almal maak reg vir die matriekafskeid
2009-08-20
Liezl Dyson
VIR die meeste matriekleerders wat nou die einde van hul skoolloopbaan nader, is die matriekafskeidbal die hoogtepunt van die jaar. Maar dit kan ouers heelwat kos. Meisies en seuns kyk nou al uit vir die regte kleur, die regte rok, die regte aandpak en natuurlik die regte metgesel om hulle op hierdie spesiale aand te vergesel. Leerders van Charleston Hill Sekondêr het reeds verlede week in die Paarlse stadsaal hul spogaand gehou. Met die groot aand kom daar egter ’n prys - vir sekere leerders is die prys net duurder as vir ander, veral as daar nie vooraf fondse ingesamel is om die kostes van die uithangfunksies te dek nie. Dit kos ook by sommige skole heelwat meer indien jy ’n nie-leerder wil uitnooi. Leerders van New Orleans Sekondêre skool gaan vanjaar na verwagting tussen R120 en R150 per persoon betaal vir hul matriekafskeid wat op 1 Oktober in die Paarl Stadsaal gehou word. Die res van die aand se onkostes word gedek deur die opbrengs van ’n Valentynsbal wat vroeër vanjaar gehou is. Bergrivier Sekondêr se matriekafskeid word op 22 September in die Wellington Stadsaal gehou en volgens Dolfina Flanet, onderwyseres, is die kaartjies R135 per persoon en sluit die diplomafunksie in waarheen die ouers uitgenooi word. By Hugenote Hoërskool betaal die matrieks R180 per leerder by die skool. Indien ’n seun ’n metgesel van buite die skool wil nooi, betaal hy dubbel die prys (R360) vir sy metgesel en indien ’n meisie ’n metgesel wil nooi van buite die skool betaal sy R270 vir haar metgesel. Volgens die skoolhoof, Wessel Moolman, betaal die seuns meer as die meisies omdat daar vanjaar genoeg meisies tussen graad 11 en 12 leerders by die skool is om as metgesel te kies. Moolman het gesê die geld wat by die kleure-atletiek aan die begin van die jaar ingesamel is, ook ten bate van die matriekafskeid gebruik word. Die groot aand word op 22 September in die skoolsaal gehou. Leerders van Hoër Jongenskool het reeds in graad 11 hul kaartjiegeld van R200 per paar vir die matriekafskeid wat op 16 Oktober in die Kronenburg onthaalsaal gehou word, betaal. ’n Deel van die koste word gedek uit die Ladies Brag wat tydens interskole gehou is. Leerders van La Rochelle Hoërskool gaan vanjaar ook hul matriekafskeid op 9 Oktober in die Kronenburg onthaalsaal hou. Die leerders maak reeds ’n bydrae in graad 11 wat hul metgesel se kaartjie dek. Die res van die onkostes word gedek deur ’n Valentynsdans en die snoepie by die skool. Volgens skoolhoof Amanda Lochner gee dit die meisies kans om in hul laaste jaar te fokus op hul rokke. Sy het gesê dit is ook die skool se gebruik dat die meisies die aand van die matriekafskeid hul metgesel by die deur aan haar voorstel. Wellington Hoërskool se kaartjies is R200 per leerder en die funksie word op 26 September vir die eerste keer in die skool se nuwe skoolsaal gehou. Slegs die R200 per leerder word gebruik om die onkostes te dek en geen ander fondsinsamelingsfunksies is in dié verband gehou nie. Indien leerders ’n metgesel van ’n ander skool wil saam neem moet hulle kan bewys dat hy of sy tussen graad 10 en 12 is. Hoërskool Gimnasium se matriekafskeid word gehou in die skoolsaal op 23 September. Matriekleerders het reeds toe hulle in graad 11 was, fondsinsamelings gehou en in hul matriekjaar betaal hulle slegs R150 vir hul metgesel indien die metgesel van ’n ander skool is.
More
News
|