DBV doen groot werk
2009-08-27
Johan Nel
ONDANKS ’n skerp daling in inkomste, het die Wellingtonse Dierebeskermingsvereniging die afgelope jaar hul gemeenskapsdiens onverpoosd voortgesit, altesaam 1288 diere hanteer en bykans 290 diere gesteriliseer, het Francois van Wyk, voorsitter van die vereniging, op hul onlangse jaarvergadering gesê. Die DBV se inkomste het volgens hom oor die afgelope twaalf maande met 51% gedaal. Na ’n aantal groot personeelveranderings wat die werksaamhede van die organisasie byna tot stilstand laat kom het, het hulle egter daarin geslaag om die dienste te bekom van Chris Theron, ’n senior inspekteur met baie jare se ondervinding van DBV-werk. Saam met hom werk daar nou ook twee nuwe leerling-inspekteurs, JD Coetzee en Cedric van Rooyen, by die Wellingtonse DBV. Volgens Van Wyk kon hulle, ondanks die ernstige finansiële terugslag van die afgelope paar maande, steeds voortgaan met hul gereelde weeklikse kliniek waarheen Wellingtonse diere-eienaars hul diere kan neem vir bekostigbare mediese behandeling. Hulle het ook hul kliniekdienste die afgelope jaar na verskeie plase rondom Wellington geneem. Die diens sal in die toekoms op ’n gereelde grondslag op die plase gelewer word en dit gaan ook na meer plase uitgebrei word. Een van die faktore wat ’n belangrike rol gaan speel in die toekomstige groei van die DBV is die ooreenkoms wat pas met die Drakenstein munisipaliteit gesluit is waardeur die DBV voortaan maandeliks vergoed word vir hul werk om probleemdiere namens die munisipaliteit uit die gebied te verwyder. Die DBV is ook hard besig om borge te vind om te help om die geriewe by die bestaande terrein aansienlik te verbeter. Hierdie planne sluit in die oprigting van ’n hondesalon asook ’n dierehotel wat die DBV sal help om sy diens aan die gemeenskap dramaties te verbeter en om die organisasie se inkomste aansienlik te verhoog. Van Wyk het die Wellingtonse gemeenskap genooi om as vrywilligers betrokke te raak by die werksaamhede van die vereniging. Hul belangrikste bron van inkomste bly steeds donasies en skenkings. Die vereniging wag ook op ’n antwoord op hul aansoek by die lotto om finansiële steun vir hul beplande nuwe uitbreidings.
More
News
|