Rivierlope nou ondersoek
2009-09-03
’n KONSULTANT gaan deur Drakenstein Munisipaliteit aangestel word om die omvang van die probleme in rivierlope op Wellington te ondersoek, na aanleiding van klagtes dat rivierwalle weggevreet word deur erosie. Daarna sal gekyk word wat nodig is om die rivieroewers te stabiliseer asook beramings vir wat dit sal kos om uit te voer. Volgens ’n munisipale woordvoerder word dooie boomstompe uit riviergedeeltes verwyder sodra dit onder die Munisipaliteit se aandag gebring word en die werkslading dit toelaat. “Die munisipaliteit het egter geen verpligting om in private gedeeltes van die rivier onderhoud te doen nie. Oewereienaars is in terme van wetgewing self verantwoordelik vir die instandhouding van hulle oewers.” Tydens ’n vergadering wat plaasgevind het gedurende Januarie met die Departement van Water en Omgewingsake (DWAF) en van die oewereienaars het die Departement aangetoon dat hulle slegs verantwoordelik is vir die kwaliteit van die water en nie die rivieroewers nie. Toestemming moet wel by hul verkry word indien konstruksie en opruimingswerk in die riviere beoog word. Voordat met opgradering begin kan word sal ’n omgewingsproses gevolg moet word alvorens daar met enige werk begin kan word. Die Munisipaliteit sal die koste dra van die ondersoek, wat met publieke deelname gepaard sal gaan. Daarna is herstelwerk vir elke oewereienaar se eie koste. Noodherstelwerk kan vroegtydig aangepak word, voor voltooiing van die studie, met verlof van die Departement Waterwese (sien ook brief bl 6).
More
News
|