Renosterveld bewaar
2009-09-17
Johan Nel
WES-KAPENAARS is die afgelope week opnuut bewus gemaak van die stryd wat ’n klein groepie grondeienaars en enkele staatsdepartemente tans voer om te voorkom dat die Boland sy laaste lappie renosterveld finaal verloor. Op ’n renostervelddag wat deur die Landcare-organisasie van die departement van landbou in Frank Turner se wildreservaat langs die Limietberg buite Wellington gereël is, het een van die gassprekers, Deon Rossouw van Cape Nature, gesê dat die Boland 300 jaar gelede feitlik hoofsaaklik renosterveldwêreld was. Vandag is die smal strepie renosterveld wat in die bewarea langs die Limietberg voorkom en waarvan Frank Turner se wildreservaat (Bontebok Ridge) deel is, die grootste lappie renosterveld wat in die Boland oorgebly het. “Renosterveld is ’n soort fynbos en dit kom uitsluitlik op vrugbare gronde voor,” sê Ruth Parker, skrywer van ’n omvattende boek oor renosterveld. Parker, wat ook ’n spreker op die renostervelddag was, sê dat dat renosterveld slegs op hoogs vrugbare gronde voorkom en dit is een van die hoofredes waarom die plante wat kenmerkend aan renosterveld is, feitlik uit die streek verdwyn het. Die renosterveld van die Boland moes plek maak vir die graanlande van die Swartland en die Overberg en vir baie van die wingerde van die streek. “Die vroeë inwoners van die gebied het hulle beeste en skape saam met die groot wildtroppe van destyds op die renostervelde van die Boland laat wei, maar die afgelope 350 jaar se intensiewe bewerkingsmetodes het die renosterveld al meer begin terugdruk sodat dit vandag net hier en daar in klein kolletjies en in ’n smal strokie hier in die bewarea voor die Limietberg te sien is.” Die groepie boere wat betrokke is by die bewarea voor die Limietberg was een van die eerste groepe wat die verdwyning van die renostervelde uit die streek begin stuit het. Hulle het meer as R1 miljoen spandeer om indringerplante te beveg voordat die staat begin het om die projek te befonds. Indringerplante word tans deur Cape Nature oor ’n gebied van meer as 10 000 hektaar in die berge tussen Franschhoek en die Voëlvleidam bestry. In die gebied voor die Limietberg, waar die boere van die bewarea oorspronklik die renosterveld begin bewaar het, het Landcare met ’n bydrae van nagenoeg R500 000 gehelp om ’n stuk renosterveld van meer as 400 ha weer vry van indringerplante te kry. As die renosterveld verdwyn, sal ’n wye verskeidenheid belangrike plantsoorte asook skilpaaie en ander diere verdwyn.
More
News
|