Gee hulle ’n kans
2009-09-17
Sieb Sieberhagen
DIE program waardeur gevangenes by die Drakenstein se Medium B gevangenis karatevaardighede aanleer, is tans besig om vrugte af te werp. Daar word beoog dat hierdie vaardighede deur gevangenes na ontslag benut kan word om ’n inkomste te verdien. Ná vrylating is twee van die gevangenes reeds besig om kinders in karate te onderrig. In Februarie verlede jaar het Harry Pieterkosky van Milnerton, ’n agtste dan karate-instrukteur in die Goju-styl, ’n handjievol gevangenes begin oplei. En die resultaat van sy liefdesdiens (hy vra nie ’n sent vir sy afrigting nie) is baie positief. “Dit is my manier om weer terug te ploeg in die gemeenskap. Karate het vir my baie beteken en het vir my baie deure oopgemaak. Met dié projek gee dit vir mense ’n tweede kans. “Vandat daar begin is met die projek, het geweld in die B-Medium gevangenis ook begin afneem. “Een van die vereistes is dat gevangenes wat aan die program deelneem nie karate mag misbruik nie. Indien hulle dit doen word hulle uit die program geskop. “Dit is verbasend om te sien dat dié wat met die program besig is, ook hul emosies baie goed kan beheer. “Van die eerste groep waar 18 begin het, het 13 op die ou einde gegradeer. Vir ses maande het ek hulle blootgestel aan die basiese opleiding - met ’n klas van twee uur elke week. “In Maart vanjaar het dertien van hulle geel gordelgraderings gekry. “Tydens hulle opleiding word spesiale aandag geskenk aan wenke oor hoe om opleiding te gee. “Die volgende gradering vind oor twee weke plaas, waarna die geelgordel-karateka gaan help om hulle eie maats op te lei. “Dit gaan baie help wanneer hulle vrygelaat word en hulle hul eie klasse vir jongmense gaan aanbied. Hulle raak nou gewoond aan groepsklasse. Pieterskosky ondervind egter tans probleme om genoegsame fondse in te samel vir klere en bykomstighede vir sy talentvolle studente. “Ek het nog ’n borgskap van R3200 nodig om klere en bykomstighede vir die nuwe groep aan te koop. Tot op hede het ek die finansiering uit my eie sak gedoen,” vertel hy. Mense wat sy projek wil ondersteun, kan hom skakel by 082-745-9037 of met Ivor van Schoor by Drakenstein Gevangenis gesels by 021-864-8121.
More
News
|