Gedenkplaat onthul in WA Joubert-park
2009-09-23
DIE Wellington Verfraaiingskomitee het onlangs ’n gedenkbord aangebring in die WA Joubert-park oorkant die stadsaal op Wellington. Dit is op Vrydag 18 September, voor die spuitfontein, onthul deur oudburgemeestersvrou Edith Hofmeyr, kleindogter van WA Joubert. Die spreker by die onthullings-geleentheid was dr Jurie Joubert, historikus verbonde aan KSUT. Vroeër jare was dit die speelterrein van die Piet Retiefskool in Pentzstraat (waar die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie vandag staan) en van die Seunskool (waar die stadsaal vandag staan). Die grond is in 1885 geskenk deur WA Joubert en daar is onder meer daar krieket gespeel. In Augustus 1939 is daar ’n spuitfontein opgerig ter herdenking aan die koms van die Franse Hugenote - dit is die eerste Hugenote-monument in die land, ouer as die monument op Franschhoek wat in 1948 opgerig is.
Senator FS Malan, die eerste voorsitter van die Sentrale Hugenote Herdenkingskomitee, het die fontein op 18 September 1939 ingewy. Die park is in 1950 omhein en ’n ingangshek is opgerig. ’n Gedenksteen ter ere van Joubert is vroeg in 1951 in een van die hekpilare deur sy seun (ook WA Joubert) ingemessel. ’n Deel van die grond is toegeken aan die Hugo Rust Laerskool om te dien as parkeerterrein vir die skool en ook vir die studente van Huis Samuel en Friedenheim, wat aldrie ook aan die park grens.
More
News
|