Care Craft bied veilige werkplek vir epileptici op Wellington
2009-09-23
Sieb Sieberhagen
Die Care Craft Werkswinkel, ’n beskermde werkswinkel vir persone met epilepsie en ander gestremdhede in Wellington, bied werkgeleenthede aan waar werkers ook indiensopleiding ontvang. Meer as 30% van hul huidige werkers het reeds gekwalifiseer om met die elektriese houtwerkmasjinerie te werk. “Ons kyk eers na die gestremdheidsvlak. Alle persone begin by die laefunksie-afdeling waar ons kan sien hoe die werkers aanpas,” vertel Michael Sias, assistent-werkswinkel- bestuurder. “Ons kyk veral na die oog-hand koördinasie. Indien hulle goed vorder, word hulle as assistente by die houtwerkmasjiene aangestel en daarna is hulle in beheer,” sê hy. Care Craft spesialiseer in die maak van hondehokke, wyn- en liasseerkissies en byekorwe. Die sentrum, onder die beheer van Epilepsie Suid-Afrika, is in 1969 gevestig in die eertydse Wellington slagpale in Versaillesstraat. Bemarking speel by die sentrum ’n baie groot rol aangesien hulle verantwoordelik is om hul eie produkte bekend te stel en dan te verkoop. “Ons spesiale diereversorgingsreeks wat honde-, voël- en konynhokke insluit, is reeds baie bekend. Ons het ’n kontrak met Mica, ’n bekende hardeware-groep, asook Perky Pets, ’n bekende troeteldier-winkelgroep. Die sentrum het tans 20 werkers en 4 personeel en word finansieel ondersteun deur hulle eie bemarking, die Departement Sosiale Ontwikkeling en skenkings van organisasies soos die Gemeenskapskas en Paarl Post Kersfonds. Alhoewel die houtwerk en houtverwante verpakkingsprodukte die spil is waarom dié sentrum draai, is die laefunksie-afdeling tans besig om haarkrullers te verpak. “Aangesien ons werk met persone wat epilepsie kry, bied ons aan hulle ’n beskermde omgewing. Indien van die werkers aanvalle kry, kan ons dadelik na hulle welstand omsien,” sê Sias. “Al ons werkers hier by die sentrum is van die omgewing. Die naaste sentrum soortgelyk aan ons sentrum is een in Kaapstad,” vertel hy.
More
News
|