Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Só praat ou vriende om ’n tafel

Só praat ou vriende om ’n tafel
 
2009-09-23

Marguerite Lombard

IN die 1960’s is ’n paar huise in Wes-, Pine- en Pentzstraat op Wellington tot krotbuurt verklaar en die meeste gesinne is elders in munisipale huise gehuisves. Die klein gemeenskap is so opgebreek en baie van die mense wat as kinders daar grootgeword het, het kontak met mekaar verloor.

Die Wellington Museum het onlangs mense wat in hierdie gemeenskap grootgeword het, genooi om te help om hierdie geskiedenis op te teken. Die oggend se bymekaarkom is deel van die museum se Om-die-tafel-stories-projek.

Die mense van Wesstraat-omgewing het in klein skakelhuise grootgeword – groot gesinne in twee-vertrek huise.

Tussen die “Glamour Boys”, polisieklopjagte en “merchants” het gewone hardwerkende ouers hulle kinders grootgemaak en verder laat leer.

Die huise het oorspronklik aan die Wellington Independent Friendly Society behoort wat ook eiendom in Verlatekloof (Laer Pentzstraat) en Botterberg gehad.

Oud-burgemeester Herman Bailey het ook in hierdie gemeenskap grootgeword, sy pa het die skoenwinkel Boland Boot & Shoe Repair gehad en die gesin het tot 1966 in ’n skakelhuis in Wesstraat gewoon.

“Ons was altesaam omtrent 18 gesinne, en ons huise het ’n blok gevorm. In die middel van die blok was daar ’n plek waar mense hulle water getap het en die vroue wasgoed gedoen het. Dit was die middelpunt van ons gemeenskappie.”

Die huise het nie lopende water gehad nie, en almal het water getap by ’n gemeenskaplike kraan, vertel Bailey. “Daar was ook gemeenskaplike toilette: twee gesinne per toilet.

Freddie Japhta kon nog onthou dat vóór daar spoeltoilette was, was daar die balie-stelsel. Dan het Sampie Samson die emmers tienuur in die aand kom leegmaak met sy wa wat almal Tipperary genoem het.

Die meeste van die buurt se mense het óf by die leerlooiery óf by Langeberg se konfytfabriek gewerk.

Vrouens het wasgoed gedoen vir die Residential Hotel om ekstra geld te verdien. Seisoentyd het dié wat nie vaste werk gehad het nie, op plase ertjies en druiwe gepluk, appelkose gedroog en mebos gemaak.

Baie kon nog onthou hoe mense appelkose huis toe gedra het om op die toilette se dakke te droog.

Pieter Marthinus vertel hoe hulle as kinders ook gewerk het. September-vakansies as die ertjie-lorrie kom, het hulle opgeklim om op die plase ertjies te gaan pluk.

Kinders het ook gehelp om appelkose te droog en appelkoospitte gekraak vir die konfytfabriek.

Ouers was daardie jare baie streng en van kinders is gewoonlik verwag om te help om vir die gesin kos te maak en vars water aan te dra. Hulle moes sorg dat die rys en vleis klaar is wanneer ma tienuur in die aand van haar skof huis toe kom. Dan het sy net die groente bygesit. Dikwels het die gesin eers om elfuur aandete gehad.

Die gemeenskap het ook sy eie tradisies gehad soos om iemand te “serenade” op sy verjaarsdag. Janet Smith wat vandag nog in Pinestraat woon, onthou hoe almal dan net voor middernag oorgestap het na die persoon se huis toe met potte sop en lekkergoed. En soos hulle loop, word daar gesing.

“Almal het gegaan, al was môre ’n werksdag. Die kinders ook. Winter of somer, baie van ons sommer in ons nagklere. Dan sing ons, een lied na die ander. En ons kon gesing het soveel as ons wou, maar voor ons nie die gesang ‘Behold me standing at the door’ sing nie, bly die deur toe,” vertel sy.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za