Annatjie van Wyk vier 80jaar
2009-09-23
Hester de Kock
DIE bekende oud-burgemeestersvrou van Wellington, Annatjie van Wyk, vier op 25 September haar 80ste verjaarsdag. Toe die Junior Rapportryerskorps Wamakersvallei in 1990 besluit het om jaarliks ’n Wellingtonner van die Jaar te vereer vir gemeenskapsdiens, was sy ’n maklike eerste keuse. Annatjie se Hartland is Brakfontein, die Van Heerden familieplaas in die Swartland. In 1947, gematrikuleer op Moorreesburg, word haar droom van maatskaplike werker, “liefdevol gekelder” deur ’n bejaarde pa wat verkies om nie sy oogappel te verloor aan die buitewêreld nie. Dus betaal hy haar ’n maandelikse “salaris” om te vergoed vir die verlies aan inkomste uit ’n beroep. “In Januarie 1952 kom my boyfriend kuier en bring ’n vriend, Gawie van Wyk, saam vir geselskap vir broer Thys. Veertien dae daarna, tot konsternasie van boyfriend, familie en vriende, raak ek en Gawie verloof.” In 1959 verruil die Van Wyks hul tuisdorp Moorreesburg vir die Paarl - Gawie werk as rekenmeester by Brink, Roos & Du Toit en die Paarl word Annatjie se Leefland. “As lid van die Paarlse ACVV begin my lewe van werk vir my medemens en daaroor was ek nog nooit spyt nie.” Hulle woon vyftien jaar in die Paarl waar sy dien op die besture van die ACVV en Rusoord-ouetehuis. “Gawie was toe reeds baie siek en dr Chris Barnard doen van die heel eerste hartomleidings op hom. Dit was nie heeltemal suksesvol nie en in 1975 trek ons Wellington toe vir ’n rustiger lewe.” Allesbehalwe, want hier leef die egpaar hul liefde vir gemeenskapsdiens, gesamentlik uit. Wellington word Annatjie se Liefland. Sy dien op die bestuur van die ACVV, is voorsitter van Fyngoud Dienssentrum, Gesinsorg en die Kankervereniging waar sy een van die eerste vrywilligers is wat opgelei is vir pasiëntesorg. Gawie is betrokke by die Gholfklub, is bestuurslid van die Sakekamer, dien op die Munisipale Bestuur, word onderburgemeester en in 1984 burgemeester. Hy sterf in sy amp. “Gawie het hom baie beywer vir die verfraaiing van die dorp.Hy het die museumgebou en Bovlei-kerkie gerestoureer, want toe het hy sy eie bou-onderneming gehad.” Gawie se afsterwe in 1986 demp nie Annatjie se passie en toewyding aan haar selfopgelegde taak van dienslewering aan haar dorp en gemeenskap nie. Sy dien na sy dood steeds as burgemeestersvrou op versoek van die munisipale raad, in die ampstermyn van Ina Burger - twee “ystervroue” saam. Afgetree woon Annatjie en Setta Pieters - reeds 51 jaar by haar - in Stokkiesdraai-kompleks: “Setta is my regterhand en werk al van Moorreesburg se dae af vir my. Ons is werklikwaar onafskeidbaar en kan nie sonder mekaar nie.” . .
More
News
|