Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


’n Pot vol liefdadigheid

’n Pot vol liefdadigheid
 
2009-09-23

Lise Beyers

’n ENORME welwillendheidsgebaar deur ’n plaaslike maatskappy het gelei tot die insameling van R50 000 vir liefdadigheid.

En dit het alles begin toe ’n vrou haar man gestuur het om hoenderpasteitjies te gaan koop.

So het Rian Moore van Collotype onlangs by Rusoord beland om hierdie taak te verrig. Maar sy nuuskierigheid was groot toe hy sien hoe word pasteitjies verkoop by hierdie ouetehuis in die Paarl.

Hy het navraag gedoen om vas te stel wat die rede hiervoor is en daar is aan hom gesê dat twee groot oonde in hul kombuis onklaar geraak het. Hulle bak dus om R100 000 in te samel om die oonde te vervang.

Uit Moore se oogpunt sou dit ’n byna onbegonne taak wees om deur middel van pasteitjieverkope hierdie reuse-bedrag in te vorder.

Dit was nie lank nie en hy en sy personeel by Collotype het met ’n plan vorendag gekom om vir Rusoord te help.

En potjiekos was net die antwoord.

Moore en sy broer Eugene is al bekend vir hul liplek-lekker potjiekos wat hulle deur die jare voorberei vir liefdadigheid.

Moore was vir jare lank aan die stuur van kosprojekte van Tafelronde, en Eugene was al verskeie kere in die nuus op Worcester vir sy kookvernuf vir liefdadigheid.

Om die bal aan die rol te sit moes Collotype se personeel eers e-posse uitstuur aan hul kliënte wat mag belang stel om ten bate van liefdadigheid ’n bord potjiekos te koop.

“Ons het eers gedink dat ons ’n maksimum van 1000 borde sal verkoop, maar soos wat die e-pos gesirkuleer is, so het bestellings ingerol,” vertel Moore.

“Ons voete is skoon onder ons uitgeslaan deur die geweldige goeie reaksie van die gemeenskap. Toe ons ons oë weer uitvee, is ’n reuse 2050 bestellings vir potjiekos geplaas.”

Die Moores het besluit om ’n kerriepot en waterblommetjiepot te maak.

Collotype het al die vars produkte geborg, behalwe die waterblommetjies, wat deur ’n boer van Worcester geskenk is. Die hout vir die lang kookproses is ook geborg.

Altesame 400kg vleis, 28 sakke aartappels, 12 sakke uie, 100kg waterblomme, asook nog 100kg ander groente, is benodig vir hierdie taak, en 12 groot driepootpotte. Dit is bo en behalwe die speserye.

En so is daar reeds Donderdagoggend begin met voorbereidings. Die administratiewe personeel van Collotype het vir ’n vale groente geskil en gekap. Talle sneesdoekies moes aangedra word tydens die skil en opsny van die uie.

En Donderdagaand is die vure reeds om 23:00 aangesteek om seker te maak dat al die maaltye teen middagete afgelewer sou word.

Hierdie proses is makliker gesê as gedaan, en personeellede asook lede van die publiek het gehelp om sover as Kaapstad potjiekos af te lewer. En so is meer as R50 000 ingesamel, deur een eenvoudige gebaar vir Rusoord.

“Baie van ons is bevoorreg en ons besef nie dat met ’n bietjie werk en deursettingsvermoë kan ons ’n verskil maak in ander mense se lewens nie.

“Soos wat die aktrise en liefdadigheidsaktivis, Audrey Hepburn, gesê het: Onthou, as jy ’n helpende hand soek, sal jy dit aan die einde van jou arm vind. En as jy ouer word sal jy besef dat jy twee hande het. Een om jouself mee te help, en ’n ander om ander mee te help.”

* A local business has raised more than R50 000 in funds for the aged, by preparing thousands of potjiekos meals.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za