Kunstige bydrae baat De Poort Erfenissentrum
2009-10-01
Sieb Sieberhagen
KUNSTENAAR Johan Burger, wat in sy leeftyd reeds die wêreld platgereis het, en verskillende kunsvorme en mediums ondersoek en bestudeer het, is nou in opdrag van die De Poort Erfenissentrum in Suider-Paarl besig om met unieke uitstallingskuns die sentrum se lewende erfenis te laat herleef. Muurbehangsels en uitstallings wat deur die geskiedenis van die vroeë vervoerbedryf geïnspireer is, kom tot hul reg deur interessante aanbiedings en uitbeeldings. “’n Mens moet jou kan uitleef. Jy moet betrokke raak by wat hier gebeur. En dit inspireer my om die aanbiedings interessant te maak. “Besoekers sal kan deelneem wanneer hulle hier kom besoek aflê. Mense sal hulle in die vroeë vervoerbedryf kan inleef. “Daarom ook dat ek alles met die hand geskryf het. Dit pas baie goed aan by wat die mense vroeër jare hier gedoen het. Hulle het alles met die hand gedoen,” vertel hy. Vir die volgende paar maande wag daar nog groot werk vir Johan wat hierdie projek man alleen doen. Oorspronklik van Zimbawe het hy voorheen by die Groot Zimbabwe Ruïnes se museum gewerk. Johan se CV is oorlaai met spesiale projekte en uitsonderlike museums waar sy kundigheid vir die generasies wat kom, behoue gaan bly. Name soos Prinses Diana se Children’s Conservation Education in Zimbabwe, die Cheetah Conservation Fund in Namibië, die Nyaminyami Batonka kultuurmuseum by die Kariba-meer, die Meropa Casino-kompleks naby Polokwane en BayWorld in Port Elizabeth is bekend met Johan se werk. Hy het hom in 2004 in die Paarl kom vestig waar hy hom toespits op vryskut-skilder en klasaanbieding. Vroeër vanjaar het De Poort hom genader om hulle met die projek te help. Volgens Frances Graves, hoof van De Poort, is Johan onmisbaar weens sy bydrae om die kreatiewe en speelse inligtingsborde in die sentrum te skep. “Hy dra nie net by as kunstenaar nie, maar help ook met die tuinuitleg op die perseel en het ’n ensiklopediese kennis van die insekte, perde, voëls en bome. “Hy het uitgebreide kennis van die museumkunde en toerisme en verseker dat alle inligting korrek is. Ons het groot pret gehad met die saamstel van die inligting op die borde - met onder meer aanhalings uit die reisbeskrywings van vroeër jare. “Dit is ook ’n groot onderneming om die regte name van al die werktuie van die wabouers en die onderdele van waens in albei tale uit te vind. “As ’n relatiewe nuweling tot die Paarl, het Johan waarskynlik meer kennis van die wabou-era in die Paarl as enige ander plaaslike inwoner.” * Artist Johan Burger has made a big contribution to the De Poort heritage centre.
More
News
|