Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Skrywers terug in die Paarl - soos dit hoort!

Skrywers terug in die Paarl - soos dit hoort!
 
2009-10-08

Johan Bakkes

DIS laat Donderdagaand 24 September dat ek die volgende SMS van skrywer Nanette van Rooyen kry: “Gisteraand was ’n reuse sukses! Kos fantasties, skrywers sjarmant en onderhoudend, verkope goed. Jou seer gemis. Dankie vir reëlings!”

En ek’s onmiddellik vies dat omstandighede gesorg het dat ek nie die aand saam met haar en Riana Scheepers in die Eethuis kon kuier nie.

Gelukkig was daar nog geleenthede, want Cultivaria het gesorg dat die Afrikaanse skrywers die Paarl ingeval het. Hier waar hulle hoort, hier waar alles begin is, hier waar ’n helse paal vir die taal die hoogtes inskiet.

Stellenbosch het sy Woordfees, Pretoria het skynbaar nou een of anner Woordtoor. Oudtshoorn ‘fees’ deesterdae net en Potch se aarde klop ok maar net.

En wat doen die Paarl by uitstek? Hy kan vreemdeling omarm, hy kan kos maak, hy kan wyn drink en hy’s vol stories.

Die kosmaakplekke gooi hulle deure oop en die skrywers wonder “maar hoekom het die Paarl so lank gewag om ons te vra” en om tafel kuier vriend en vreemdeling met ’n glasie, ’n heerlike bord kos en ’n storie.

Soos genoem kon ek nie saam met Johan Pauw en sy Eethuis gaste kuier nie, maar toe stap ek mos in die Oude Paarl Hotel in – daar agter in hulle Marokko kuierplek. Johan Hambidge en Loftus Marais is besig om mekaar van Kuba tot Marokko met gedigte te peper – ’n tweegesprek in kwatryne.

Sjef Daniel toor die heerlikste poëtiese disse wat swaai van radys tot Morokkaanse sikbadj en dan uit die mistieke dans Gerda Herenius haar maagwriemelende in ’n heerlike aand in.

Daar’s nie rus nie, want Abe van Noop se beesstert staan en prut. Dis Fanus Rautenbach se gunsteling.

Dis dan ook die Saterdag hier teen middagete saam wat ons die heerlike atmosfeer van Noop instap. Gerrit se seun is saam vir die gesels. Kuiergaste is van heinde en ver – selfs spesiaal ingery uit die Overberg uit. En Fanus (volgens hom is ‘Fanus’ ’n eretitel – “bokker die ge-oom” sê hy), vermaak op laat ouderdom, oud en jonk.

Nog is het einde niet. Dis Cultivaria se laaste funksie. Proviant is tjok-en-blok, daar’s ’n veertig-mens waglys. Die gaste sit bankvas terwyl die Paarl vir oulaas sy koue lyf wys. Kaggelvuur knetter.

Chef June woel in die kombuis – Deon Meyer het lensiesop met gerookte varkrib voorgestel en Dana Snyman ’n pastei wat nie vrugtesout vir nadraai benodig nie.

Daar is lag in die lug. So tussen heerlike te ete, heerlike te drinke en net mens wees, verval ons in die basiese – saam gesellig om ’n tafel.

En toe ons huis toe, toe sê Riana, Nanette, Joan, Loftus, Fanus, Deon en Dana vir my: “Jy weet ons is mos nou nie eintlik konsertmense nie. Ons het nie kitare en kostuums om agter te kan wegkruip nie, maar hel julle hier in die Paarl in, het dit vir ons heerlik gemaak – asseblief maak weer so!”

Ek hoop ons doen.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za