Wellingtonner spoggerig aangewys
2009-10-08
DIE 20ste Wellingtonner van die Jaar-dinee is vanjaar vir die eerste keer in die geskiedenis buite die grense van die dorp by die skilderagtige Diemerskraal Onthaalsentrum gehou. Die viersitplek Buccaneer vliegtuig in die onthaalsaal het deurentyd die gaste herinner dat hierdie formele geleentheid eintlik binne in vliegtuigloods gehou word en dit het bygedra tot die skep van ’n besondere unieke atmosfeer. Ferrus Terblanche is as Wellingtonner van die Jaar vir 2009 aangewys vir sy besondere bydrae tot die opheffing en ontwikkeling van die plaaslike gholfklub, een van die beste negeputjiebane in Suid-Afrika, asook die indirekte bydrae wat sy bestuur van die klub tot die toerisme en bemarking van Wellington as dorp en gemeenskap lewer. Ferrus bied jaarliks aan verskeie liefdadigheidsinstellings asook skole die geleentheid om die gholfbaan vir fondswerwing te benut, geleenthede waartydens mense van buite Wellingtoin die gasvryheid van Wellington en die natuurskoon eerstehands kan ervaar. Hy is ook aktief betrokke by die ontwikkeling van jong gholfspelers vanuit voorheen benadeelde gemeenskappe in Wellington en hy reël self die ope dae. Hy is voorwaar ’n ambassadeur en sy harde werk agter die skerms word op hierdie wyse erken. Drie leerlinge het boekpryse ontvang vir hul uitbou van Afrikaans. Hulle is Sam-Maree Rooi (Wellington Hoërskool), Furnal Manus (Bergrivier Hoërskool) en Esperance Potgieter (Hugenote Hoërskool). Manus het van sy gedigte aan die gehoor voorgelees en Esperance het ’n monoloog voorgedra. Drie Presidentsverkenners Carmen Els, Melissa Oettle en Marguerite Roux is vereer omdat hulle daarin geslaag het om hierdie gesogte toekenning binne die Voortrekkers te kon behaal.
More
News
|