Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Deeg-knie en houtkap in 1875

Deeg-knie en houtkap in 1875
 
2009-10-15


DIT is nie aldag dat ’n mens terug in die verlede kan reis nie, maar sowat 200 graad agt leerders van Hoërskool Gimnasium het die afgelope twee weke die geleentheid gekry om in die jaar 1875 te leef al het dit beteken dat hulle hul selfone vir die paar uur moes bêre.

Dié leerders het deelgeneem aan ’n “tydreis” wat by die Afrikaanse Taalmuseum aangebied is in samewerking met Paarl Museum en die Departement van Kultuursake en Sport.

Dié konsep is deur die Kalmar Läns Museum in Swede ontwikkel. Volgens Catherine Snel, kurator van die Taalmuseum, is ’n tydreis ’n opvoedkundige medium waardeur leerders op ’n ontspanne en spelende wyse meer kan leer oor hul plaaslike omgewing.

“Tydens die tydreis word die leerders blootgestel aan die omgewing as ’n bron van inligting, navorsingsmetodiek en die gebruik van verskillende bronne van inligting, asook interpretasie van ’n spesifieke terrein en rolspel in die gekose tydsperiode.”

Vir die leerders, wat die museum in groepe van 30 elk besoek het, beteken dit dat hulle vir ’n tydjie van die klaskamer kon ontsnap, “aaklige” outydse klere moes aantrek en hulle in die stigting van die GRA op 14 Augustus 1875 kon inleef, wat heelwat van hulle as “’n avontuur” en “ongelooflik” beskryf het.

Elizabeth Bowes, gids van Paarl Museum, het die tydreis beskryf as ’n wonderlike manier om die geskiedenis lewendig te maak en uit te beeld sodat leerders eerstehands kan ervaar hoe die lewe destyds was en sodat hulle dit kan vergelyk met die lewe vandag.

“Terwyl Oom Lokomotief en die ander Du Toit’s en Malherbes met ’n geheime vergadering in die eetkamer besig was, was daar ’n groot gewerskaf op die werf agter die museum waar die ander leerders die randfigure se pligte leer ken het.”

Van die leerders het geleer om te borduur en te brei of om hout te kap en onkruid uit te spit. Ander het deeg geknie en roosterbrood gemaak.

“Dit was lekker om te sien hoe die lewe was voor ons ouma se ouma gebore is. Maar ons kan dankbaar wees dat dit glad nie meer so is nie,” het Christine Goslett, wat die rol van Sabiena van Malabar vertolk, gesê.

Willem Martinson wat vir die dag in die skoene was van Klaas, ’n arbeider wat voorheen ’n belangrike Khoikhoi kaptein was, het ook dié ervaring geniet.

“Ek het regtig soos Klaas gevoel en soos ’n boordwerker gewerk. Dit is nie regtig lekker om nie ’n sê te hê nie. En jy moes maar net doen wat van jou gevra is.”

Baie van die leerders het voor hierdie uitstappie nog nooit van die GRA gehoor nie, maar is nou baie opgewonde om die museum weer te besoek.

Hein Malan wat die rol van een van die GRA-lede, PJ Malherbe, vertolk het, sê: “Die lekkerste is om te weet dat Afrikaans nooit sal uitsterf nie!”

.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za