Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Izak kom huis toe

Izak kom huis toe
 
2009-11-05

Lise Beyers

DIE ontslape kerkman, skrywer, digter en koerantman, Izak de Villiers, het verlede week teruggekeer na sy geliefde tuisdorp. Sy as is in Klein Drakenstein gestrooi tydens ’n private seremonie.

De Villiers is op 27 September oorlede ná ’n kort siekbed by sy huis in Johannesburg.

Hy is op 30 Julie 1936 in die destydse kraaminrigting op die hoek van Meul- en Gimnasiumstraat gebore, waar Hoërskool Labori tans staan.

Hy het as alleen-kind in sy ouerhuis in Meulstraat grootgeword, en was ’n skolier aan Gimnasium.

Alhoewel hy teologie aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer het, het sy hart altyd na aan die skryfkuns gelê, en was hy redakteur van die universiteitblad.

De Villiers se eerste gemeente as NG-predikant was in Albertinia, hierna Bonnievale, en later Constantia.

In 1973 het hy op vryskutbasis vir Die Burger begin skryf, en in hierdie tydperk het hy ook baie radiowerk gedoen as godsdienstige programaanbieder. Later het dit ook gelei tot televisiewerk.

Maar in 1983 het De Villiers die wêreld van joernalistiek met mening betree, toe hy aangestel is as redakteur van die vrouetydskrif Sarie. Hier het hy onder andere bekendheid verwerf as rubriekskrywer, waarvan daar verskeie bundels gepubliseer is.

In 1991 word hy aangestel as redakteur van die Sondagblad, Rapport, waar hy die leisels gehou het tot sy aftrede in 1997.

Hy het verskeie boeke gepubliseer, en het veral bekendheid verwerf as digter.

Maar tussendeur De Villiers se omswerwinge was hy altyd in murg en been ’n Paarliet. Hier het sy hart gelê en sy tuisdorp het dikwels in sy skrywes opgeduik.

Dus was dit sy begeerte om eendag terug te keer hierheen. En so het hy - toe ’n intieme groepie familie en vriende Vrydag by die teraardebestelling van De Villiers se as in die skilderagtige Klein Drakenstein-begraafplaas bygewoon het.

In De Villiers se laaste digbundel, Vervreemdeling, wat vroeër vanjaar verskyn het, verskyn die volgende woorde:

Ek kom uit daardie aarde van eike en olienhout; van diamantdae en ’n rivier wat kronkel deur rye wingerde - blaremanteldraaiers na die stand van die seisoene - daar waar ’n mosgeur elke somerse herfs oor wit kelders hang.

Ek sal weer teruggaan, na die geil aarde van Klein Drakenstein, langs die landgoed van Nederburg waar wyn geproe word uit die blink kelke. En die groot granietberg sal glinster soos ek deel word van die daegang, vergroeid in eik en wingerd - heel moontlik opgesuig word in die sap van druiwe.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za