Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Werkskepping by Nagskuiling

Werkskepping by Nagskuiling
 
2009-11-05

Sieb Sieberhagen

MET die feesseisoen voor die deur en met die ekonomie maar droewig, is daar deesdae baie haweloses wat by die Haven Night Shelter in Ambagsvalleistraat aanklop vir blyplek.

Dié nagskuiling is altyd vol, vertel Eugene Swaan, bestuurder van dié skuiling, een van 14 nagskuilings in die Wes-Kaap. Dié sentrum, wat ook befondsing van die Paarl Post Kersfonds ontvang, kan tans 120 mense huisves. Hier kan mense slaapplek en twee etes per dag kry. En mense word nie sommer weggewys nie.

“Ons inwoners word na gelang van hulle omstandighede in verskillende kategorieë geplaas. Eerstens is daar mense wat werkloos is en nie ’n blyplek het nie. Dit is ook die grootste groep van die inwoners.

“Dan is daar dié wat wel ’n werk het, maar nie huisvesting nie. Die derde groep is die pensionarisse wat staatstoelaes ontvang, maar nie ’n heenkome het nie. As ons vol is, sal ons selfs matrasse op die vloer gooi om slaapplek te gee.

“Ons maatskaplike werker, Hybrie Krieling, voer onderhoude met die inwoners wanneer hulle hier kom aanklop. Sodoende kan ons onmiddellik die behoefte bepaal en besluit by watter groep die persoon ingedeel word.

“Tans het ons twee projekte aan die gang om die werkloses besig te hou. ’n Derde een is aan die kom.

“In die boublok-projek, waar ons self boublokke vervaardig, kan die inwoners tot soveel as R250 per week verdien. Ons roteer ook die inwoners sodat elkeen die geleentheid kan kry om geld te verdien.

“Die groentetuin-projek is ook goed aan die gang. Dit hou die ouens besig en ons kweek die groente vir eie gebruik. Ons derde projek is ’n hoenderboerdery wat ons nou op ’n klein skaal begin het,” vertel Swaan.

By dié nagskuiling geld daar ook streng reëls. Inwoners wat hulle skuldig maak aan dwelm- en alkoholmisbruik sal ná drie skriftelike waarskuwings die nagskuiling belet word. Ons kan hulle ook na rehabilitasiesentrums verwys.”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za