Hulde aan Charlotte
2009-11-05
Christine Siebrits
BY die onlangse kerke-koorfees op Wellington was daar groot blydskap toe die stigter, Charlotte Cupido (88), sodanig herstel het van siekte dat sy dit kon bywoon. Die reëlings is intussen oorgeneem deur oudburgemeester Herman Bailey, wat self ’n solo gelewer het. Hy het by die fees aangekondig dat dit in die vervolg bekend sal staan as die Charlotte Cupido Kerke-koorfees. Dit was ’n heerlike aand van gewyde kerkliedere deur agt kore. Die deelnemende kore was VGK Vanwyksvlei, Herfsvreugde senior koor, VGK Newton, Andrew Murray Koor, VGK Wellington Dorp, AME Kerkkoor, VGK Bergrivier asook die Nuwe Apostoliese Kerkkoor. Gedurende die aand is daar hulde gebring aan Charlotte Cupido. Die Vriende van Ouma Granny’s Huismuseum het gevoel dat dit ’n gepaste geleentheid sou wees om hul dank en waardering teenoor Charlotte te betuig vir haar baie jare van diens en toewyding aan Ouma Granny’s. Dit is aan haar inisiatief te danke dat die vriende gestig is. Charlotte was dan ook die eerste voorsitter van die Vriende van Ouma Granny’s Huismuseum - “Charlotte Cupido is Ouma Granny”.
More
News
|