Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Legende in fietsrykringe oorlede

Legende in fietsrykringe oorlede
 
2005-09-01


’n GROOT gees in Suid-Afrikaanse fietsrykringe, loodgieter Japie Green (77) van die Paarl, is verlede Woensdag aan ’n hartaanval oorlede.

Green is in Prinsstraat, Noorder-Paarl, gebore in een van die Paarl se bekendste fietsry-families.

Hy was self ’n kranige fietsryer, hoewel hy hom grotendeels op administrasie toegespits het.

Sy pa, Cupido Green, was ’n stigterslid van die Yorkshire Wheelers fietsry- en atletiekklub en Japie het ’n groot rol hier gespeel as administrateur en afrigter.

“Japie het meer gegee as wat hy gehad het,” het ’n vriend vandeesweek die man se ruimhartigheid beskryf.

Hy begin ook sy eie fietsrywinkel in die Paarl en het nie gehuiwer om ’n fiets te skenk aan talentvolle fietsryers binne en buite Yorkshire nie. Later word hy president van die nie-rassige SA Fietsry Assosiasie.

Dit was ’n stormagtige tyd in die land en ook op sportgebied. Green wys dan ook ’n presidensiële toekenning van die hand, as gevolg van die Apartheidstelsel.

Japie beywer hom vir gelykheid in sport. Toe die blanke liggaam, die SA Fietsryfederasie, die eerste keer ’n gekleurde span nooi om aan die Rapport-toer deel te neem, wys hulle dit van die hand.

In 1976 begin hy met onderhandelinge met die blanke fietsryliggaam vir die eenwording van fietsry in die land.

Green en ’n afvaardiging ontmoet ook met die internasionale liggaam by die destydse DF Malan-lughawe om die proses te bespreek.

In 1977 word die SA Fietsry Assosiasie en die SA Fietsryederasie een liggaam.

Green word later verkies tot lewenslange president van Yorkshire.

Hy beywer hom vir die stigting van ’n Boland Fietsry-unie, wat in 2001 gebeur en hy word die eerste president van Boland. Voor dit was Boland se ryers by die WP geaffilieer.

Green het die afgelope drie jaar uitgereik na die jeug in Mbekweni en finansiële hulp en leiding verskaf om fietsry daar te vestig.

Hy word oorleef deur sy vrou Eileen, dogter Joy, drie kleinkinders, twee broers en vyf susters. Die begrafnis was gister.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za