Sakeman se dood skok
2005-09-01
WERKNEMERS van Collotype Paarl Labels was vandeesweek platgeslaan deur die nuus dat die stigter en voorsitter van die onderneming, Thys Hugo (51), Saterdag by Langebaan verdrink het.
Hy was verlede jaar die Paarlse sakeman van die jaar.
Hugo, sy vrou Colleen en haar dogter Angelique het in ‘n rubberboot gery naby Club Mykonos toe die boot omgeslaan het. Hoewel aldrie die strand bereik het, het Hugo beswyk ten spyte van mediese bystand.
Hugo het sy onderneming binne vyf jaar van ‘n klein begin as Paarl Labels opgebou na die grootste verskaffer van selfkleef-wynetikette in Afrika. Hy was onlangs Die Burger/Ou Mutual se Sakeman van die Jaar (klein en medium ondernemings).
‘n Upingtonner in murg en been, het hy aanvanklik vir 20 jaar voltyds in die Kalahari geboer. In 1993 het hy aangesluit by Trans Oranje Drukkers in Upington en bemarking gedoen. Binne twee jaar het hy gevorder tot hoof van die onderneming.
Teen 1998 het hy besef die uitdaging lê by selfkleef-etikette en het sy destydse vennote oortuig dat die Wes-Kaap die regte plek is om so ‘n geleentheid aan te pak.
Paarl Labels het in 1999 geopen as ‘n klein onderneming met sewe personeellede en een masjien. Hugo was besturende direkteur, skoonmaker, afleweraar en bemarker.
Sedertdien het die personeelkorps aangegroei tot omtrent 120 mense wat 24 uur per dag werk in kontinentale skofte. In 2002 het die Hugo Familie Trust 40% van die maatskappy aan sy werknemers verkoop.
Twee jaar gelede het Paarl Labels deel geword van Collotype, die grootste wynetiketvervaardiger in die wêreld. Die onderneming het sedertdien al verskeie toekennings ontvang vir kwaliteit-drukwerk.
Die besturende direkteur van die maatskappy, Denver Kirsten, het vir Hugo vandeesweek beskryf as ‘n dinamiese maar nederige mens wat ook swaarkry geken het.
“Hy was ‘n wonderlike mens wat baie aktief was in die onderneming - ons sal hom ontsettend mis.”
Hugo word oorleef deur sy vrou, Angelique en drie volwasse kinders. Die roudiens is vandag 11:00 uit die NG Toringkerk.
* Paarl's Businessman of the Year 2004 drowned on Saturday.
More
News
|