Wit oortjies pad-af
2005-09-01
Malané Bosman
AL wat erger kan wees as om jou hond aan diewe te verloor, is wanneer jou kind ontvoer word.
So praat Michelle Wiehahn van De Zoete Inval, Suider-Paarl, nadat sy vyf dae lank elke moontlike weg gevolg het om die gesin se wolfhondtefie op te spoor.
Michelle, ’n speur-inspekteur in Mbekweni, was nie tuis toe Lady die Dinsdag weggeraak het nie.
“Toe ek haar begin soek het, het buurmense gesê dat hulle die oggend om 07:15 drie mans in Des Presstraat gesien het. Twee het gestap en een het op ’n fiets gery.
Wat hulle ook opgemerk het, was die twee wit oortjies wat uit ’n rugsak by een van die mans uitgesteek het.
“Ek het oral gevra en uitgevind dat een van die mans die seun is van ’n tuinier wat hier in die omgewing werk.”
Dis toe dat insp Uli Lotze, honde-geleier van die Paarl, sy speurvernuf ingespan het.
“Ek het uiteindelik die opslaanhuis in Chester Williams plakkerskamp in Amstelhof gekry waar die seun woon, en geklop.”
Insp Koordom van die Paarl polisie en sy kollega, was byderhand sou daar moeilikheid kom.
“Van die voordeur af kon ek sien hoe deurmekaar dit is, met baie wegsteekplek vir ’n hond.
“Toe sê ek net, die mense is hier vir die wit hond. En daar dra hulle haar uit!” sê insp Lotze.
“Daar is min dinge so wreed om as ’n troeteldier te steel.”
Dinsdag, vyf dae nadat die wit oortjies pad-af is, het Michelle haar vier-maande-oue hondjie teruggehad.
“Lady was baie vuil en baie verskrik, en nou wil sy nie eens buitentoe gaan nie. Sy laat ons nie ’n oomblik uit die oog nie.
“Ons het haar juis gekry om saam met Anika groot te word en om ons later te kan beskerm.
“Ek kan net dink hoe iemand moet voel wanneer haar kind ontvoer is, want so het ek oor Lady gevoel - om nie te weet of sy seer het nie.
“Maar nou is sy weer veilig.”
* A stolen dog was recovered by detectives.
More
News
|