Kersfonds kry hupstoot
2009-11-12
DIE Paarl Post Kersfonds het onlangs ’n lekker hupstoot van R10 000 gekry. Dié skenking kom van Huguenot Investments, wat jaarliks bydra om die sowat 40 verdienstelike plaaslike organisasies wat by die fonds baat, te steun. Nog ’n skenking van R300 is ontvang van “Een van Hulle”, ook ’n ou bekende as dit kom by bydraes vir welsyn. Die skenkings word gekanaliseer deur die Wes-Kaapse Gemeenskapskas, wat reeds aansienlike bydraes tot welsynsorganisasies in die Paarl Post se lesersgebied maak. Lesers word uitgenooi om dié poging ’n hupstoot te gee met bydraes tot die 2009 Paarl Post Kersfonds. Alle bydraes teruggeploeg in die Paarlvallei - geen bydraes van ons lesers sal aan begunstigdes buite die Paarl Post se lesersgebied uitbetaal word nie. Die Gemeenskapskas se begunstigdes in die Paarlstreek is ACVV Paarl, Paarlvallei, Wellington en Franschhoek, Sanca Paarl, Rusoord Tehuis vir Bejaardes, Silwerkruin ouetehuis, ACVV Paarl, ACVV Paarl-Vallei, Oase Dienssentrum vir Bejaardes, Badisa Paarl en Wellington, Kindersorg Paarl en Wellington, Drakenstein Sentrum vir liggaamlik gestremdes, Aandblom bejaardesorg (Windmeul), Care Craft werkswinkel vir epilepsielyers in Wellington, Abbeyfield tehuis Wellington en Andrew Murray Kinderhuis, Help & Health Feeding Scheme, Haven nagskuiling, Ikhwezi Trust, Kindersorg Paarl en Wellington, Saron Gemeenskapsdiens en Good Hope Psychological Services. Kleuterskole en kindersorgsentrums kry ook steun. Ander diensorganisasies wat ook steun kry, is Sanra, Cansa, Rapcan, Famsa, Outisme Wes-Kaap, TB Care, Santa, Hospice, Dementia SA en Diabetes SA. Skenkings kan direk inbetaal word in die Gemeenskapskas/Paarl Post Kersfondsrekening 62152029007 by FNB (taknr 261150) en faks die strokie na 086-581-0723 (aandag Kersfonds).
More
News
|