Eddie begin sy tweede lewe
2009-11-12
Sieb Sieberhagen
DIE hel is verby vir Eddie Buxman. Dié boer van die plaas Burgersdrift net buite Wellington, het vir jare met ongemak en ’n brandpyn in sy ingewande rondgeloop, maar slaak nou ’n sug van verligting. “Die vuur is uiteindelik dood binne my,” sê Eddie wat twee weke gelede uitgevind het dat hy al sedert die sewentigjare aan bilharzia ly, sonder dat dit ooit gediagnoseer is. “Sjoe man, ek het ’n ongekende ongemaklikheid beleef in my onderlyf en so met al die mediese ondersoeke vrees jy maar altyd die ergste. Dit het gevoel asof ek op ’n kool vuur sit. “Maar ek wou nie aan my laat sny nie. En ek het omtrent al die mediese toetse onder die son laat doen. Gelukkig is niks kwaadaardigs gekry nie. “Ek was onlangs by dr Perry Eagles, ’n chirurg hier in die Paarl, vir die behandeling van ’n breuk. Daar aangekom het hy sommer dadelik gesê dat ek ’n fiets moet koop en ’n paar kilogram moet afskud. “Maar na ’n deeglike ondersoek en bietjie gesels oor waar ek al oral in my lewe was, en al my skete, het hy voorgestel dat ek vir bilharzia getoets word.” Dr Eagles, voorheen van Namibië, het aan hom vertel dat hy al iemand gekry het wat vir veertig jaar die bilharzia-parasiet rondgedra het. “En so wragtag, die uitslae wys toe dit is bilharzia.” Eddie is in 1973 Weermag toe en ná ’n baie kort basiese opleiding is hy en twintig ander wat in die besit van swaarvoertuiglisensies was, dadelik na die destydse Suidwes grens toe om goedere heen en weer te ry. “Ons was omtrent nooit in ’n basis nie. Ons het die hele grensgebied in konvooie van oos na wes platgery met voorraad. “En natuurlik wanneer ons by die Kunene- en Zambeziriviere gekom het, het ons geswem. Ek was tot 1979 gereeld op die grens en dit is natuurlik waar ek bilharzia opgedoen het. “Ek het twee weke gelede agt pille gesluk en daar het ’n wonderwerk gebeur. Dit is asof daar ’n saligheid oor my neergedaal het. “ Wie sou nou kon dink dat dit 35 jaar lank bilharzia was. Hier in die Boland ken ons mos nie sulke goed nie.” * A Wellington man has been cured after suffering from Bilharzia for 35 years.
More
News
|