WEN-projek om dorp te verfraai
2009-11-19
’n SPESIALE byeenkoms wat aan Wellington se inwoners die geleentheid sal bied om daadwerklik planne te beraam om hulle dorp te verfraai en rommelvry en netjies te hou, vind op Dinsdag 24 November plaas. Die byeenkoms, wat spesiaal gereël word deur Wellington se Verfraaiingskomitee en deur die organiseerders van Oop Gesprek, ’n gespreksgroep op die dorp, vind om 18:30 by Halt- ’n-Bietjie, ’n koffiewinkel in Stokeryweg, plaas. Volgens Eugenie Wiggins van die Wellingtonse Verfraaiingskomitee, het die idee vir so ’n byeenkoms spontaan onder Wellington se mense posgevat nadat die Verfraaiingskomitee ’n byeenkoms van Oop Gesprek verlede maand op die dorp toegespreek het. “Ons hoop om op die byeenkoms genoeg belangstelling onder Wellington se mense wakker te maak om met ons Wellington Eienaarsprojek (WEN-projek) te kan begin om ons dorp te verfraai en netjies te hou.” Dr Thys Smith, een van die organiseerders van die byeenkoms, sê dat die beoogde inisiatief alle planne in oorleg met die munisipaliteit en binne bestaande regulasies sal aanpak. Die byeenkoms aanstaande Dinsdag is ook nie bedoel om ’n klagte-vergadering te wees nie, maar ’n poging om ’n konstruktiewe aksie in Wellington te loods. Hy sê dat die beoogde WEN-projek nie bedoel is as ’n towerstaf wat oornag probleme moet oplos nie, maar eerder ’n klein begin is wat fokus op dinge wat wel ’n verskil in die dorp sal maak. Verdere besonderhede kan verkry word by 083-661-8363.
More
News
|