Koffie en musiek laat Loftus tiek
2009-11-19
Lise Beyers
’n BOORLING van die Paarl, Loftus Marais (28), het die literêre wêreld aan die gons, nadat hy onlangs die Ingrid Jonker-prys ontvang het vir sy debuut-digbundel, Staan in die Algemeen nader aan Venster.
En bo en behalwe die gesogte prys het hy nog twee toekennings vir hierdie bundel vanjaar losgeslaan. Maar Loftus se voetspore lê diep in die Paarl waar sy liefde vir letterkunde onder die skadu van Paarlberg gekweek is. Hy is in die Paarl gebore en het grootgeword by Hoër Landbouskool Boland waar sy pa André (Tinkie) ’n onderwyser was. Na André se vroegtydige dood, toe Loftus in graad 5 was, het hy en sy ma, Linda, en ouer suster Liné, na die dorp getrek. Linda, ook ’n onderwyser, het later skoolhoof geword van La Rochelle Laerskool. En van kleinsaf het die letterkunde ’n indruk op Loftus gemaak. “’n Boek was nog altyd ’n anderste objek vir my. ’n Ding wat spesiaal is, wat meer is as sy omslag en sy gedrukte papier. “My ma het altyd gesê speelgoed moet ons uit ons sakgeld koop, maar boeke sal sy vir ons enige tyd koop. “So in graad 4, in klein Boishaai, het ek my eerste skrywersobsessie ontwikkel. En dinge het maar net van daar af geloop, tot nou, waar ek myself vang pretensieus sit en Martin Heidegger lees op die stoep.” Loftus praat met goeie herinneringe aan sy hoërskooldae by Boishaai: “Ek onthou veral onderwysers soos André Bester en Samantha Droomer wat baie vir my beteken het. “Ek is baie gelukkig om ’n onderwyser-ma te hê, want soms dink ek het hulle ’n ingeboude manier van kinders ontwikkel en ondersteun.” Nadat hy gematrikuleer het, was daar net een pad vir Loftus, en dit was na die Universiteit van Stellenbosch. Hier het hy in 2007 sy MA in Kreatiewe Afrikaanse Skryfkunde cum laude verwerf onder leiding van prof Marlene van Niekerk. Alhoewel Marais graag werke van onder andere Wilma Stockenström en Marlene van Niekerk lees, voel hy dat hy nie noodwendig deur ander geïnspireer word nie. “As dit kom by wat my inspireer, wat my laat skryf, moet ek bieg: koffie en harde musiek. Daai twee saam, en ek voel ek kan oor énigiets skryf. “Gewoonlik kan ek nie, maar dit voel asof ek kan, daar voor my rekenaar met my Winamp oop in die taskbar vir musiek.” Tans werk Loftus by NB-Uitgewers in die Kaap en hoop dat hy in die toekoms ’n tydjie sal hê waar hy ruimte sal kry om te kan sit, lees, dink en skryf. En wat dink hy van al die aandag wat hy nou ontvang as befaamde digter? “Al die pryse en aandag maak mens nogal senuagtig. Jy voel jy moet bewys jou debuut was nie ’n gelukskoot nie. “Mens wil net by ’n lessenaar gaan sit en vergeet van dinge soos vergaderings, belastingvorms en mediese fondse, net sit speel met ’n paar reëls op jou rekenaar totdat dit jou opgewonde maak.”
More
News
|