Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Ontwerpster het groot hart

Ontwerpster het groot hart
 
2009-11-19

Liezl Dyson

SY het eers klere vir die presidentsvrou van Namibië gemaak en daarna haar eie ontwerperskool geopen. Nou help sy gehoorgestremdes in die Paarl om ’n beter toekoms vir hulself skep.

Verna Kasper het ná jare teruggekeer na haar geboorteland en nes geskop in Paarl.

Kasper, ’n gekwalifiseerde mode-ontwerper, het reeds jare terug besluit om haar kwalifikasie met ander te deel en is aangespoor deur Kovambo Nujoma (voormalige presidentsvrou van Namibië) om gehoorgestremdes te leer klere ontwerp.

Met die hulp van Nujoma het sy toe ’n ontwerpskool vir gehoorgestremdes, Verna’s Academy of Dress Design, geopen.

Die raakvatter-vrou het gebaretaal geleer en kan nou ook in Engels, Afrikaans, Duits, Frans en Italiaans met ander kommunikeer.

Kasper wat sedert Januarie in die Paarl woon, trap reeds diep spore in die Drakenstein-gemeenskap.

Sy ry elke Woensdag, Donderdag en Saterdag tot by ses gehoorgestremdes se huise om vir hulle in gebaretaal Bybelstudie te gee.

“Baie gehoorgestremdes in die Paarl en Worcester is baie agter met gebaretaal. Daar is al soveel nuwe tegnieke en maniere om te kommunikeer, maar hier word steeds die ou tegnieke gebruik.”

Volgens Kasper is daar mense wat nie eens weet wat ’n woord soos ‘nederig’ beteken nie of hoe om dit in gebaretaal uit te beeld nie.

Kasper het ook ’n kursus voltooi om meer te leer oor hoe ’n gehoorgestremde se brein werk.

“’n Mens moet weet hoe om hulle te bereik, jy moet half in hul donker wêreld klim om hulle te help, anders gaan hulle jou nie toelaat om hulle te help nie.”

Sy vertel dat baie gehoorgestremdes misbruik, mishandel, besteel en bespot word deur sekere mense in die gemeenskap en selfs familie-lede.

“Hulle moreel is baie laag, dit is waarom ek eers met die Bybelstudieklasse begin sodat ek hulle selfvertroue weer ’n hupstoot kan gee en sodat hulle kan weet hoe belangrik dit is om jou liggaam te respekteer. Ek wil hulle uit daardie negatiewe denke uithaal.”

Kasper het gesê daar is diegene wat goeie waardes het en wat mooi na hulself kyk, wat nou net die vaardighede benodig, dan is daar diegene by wie dit so sleg gaan dat hulle bedel.

“Daar is diegene wat uit streng huise kom en goeie leiding gekry het, maar daar is ook van hulle waar drank- en dwelmmisbruik ’n groot probleem is.”

Kasper het gesê haar doel is dat gehoorgestremdes op hoogte is met die nuutse gebeure, met ander gehoorgestremdes in aanraking kom en dat hulle vir die arbeidsmark vaardig is.

“Ek wil hulle leer om iets te doen vir hulself om hulle eie inkomste te skep. Ek wil hulle leer geld maak en om nie te bedel nie.”

Een van die vroue wat Kasper voor Bybelonderrig gee, se ma lê op haar sterfbed en sy weet nie hoe sy gaan oorleef sonder ’n inkomste nie.

Kasper het verlede week haar eerste groot troue in die Paarl suksesvol afgehandel.

Clydia Hendricks van Amstelhof wat ook gehoorgestremd is en wat ook by haar Bybelstudie doen, het gou sekere vaardighede by Kasper aangeleer en gehelp met die borduurwerk op die uitrustings.

“Gehoorgestremde mense werk eintlik baie goed omdat hulle baie gefokus is op wat hulle moet doen.

“Baie mense dink gehoorgestremdes is hardkoppig, maar die meeste van die tyd is dit omdat hulle nie reg verstaan word nie.”

Op ’n latere stadium wil Kasper die ander vyf gehoorgestremdes ook bietjie meer leer oor borduurwerk.

Sy kan gekontak word by 076-351-9593.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za