Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gemeenskapsprojek in aksie

Gemeenskapsprojek in aksie
 
2009-11-26

Devidean Moses

DIE Miqlat Sentrum het reeds in 1998 sy merk in die Paarl gemaak, toe Hester Veldsman die geleentheid aangegryp het om die ou Tiffany-nagklub in Klein Nederburg, Paarl-Oos, in ’n plek van toevlug en hoop vir die gemeenskap te omskep.

Daar word mense bygestaan wat ly onder probleme soos armoede, HIV/Vigs, hongersnood en geweld.

Groot verbeterings en opknappings word tans aangebring.

“Van Januarie 2010 sal die sentrum bekend staan as die Tiffany’s Sentrum, omdat die gemeenskap meer bekend is met dié naam”, sê Willie Blankenberg, sentrumbestuurder.

Die gebou is ’n plek waar mense se potensiaal en waardigheid herstel en uitgebou kan word.

Met voltooiing van die opknapping sal die gebou spog met ’n goed toegeruste gimnasium op twee vlakke wat aanvanklik op georganiseerde wyse vir gebruik deur skole en sportklubs beskikbaar gestel sal word, asook ’n internet- en rekenaarsentrum, ’n opleidingslokaal en biblioteek, ’n veeldoelige saal (met kombuis) wat ook gehuur kan word, ’n kleuterskool en nasorg in samewerking met omliggende skole, ’n voedingsprojek, asook behuising vir die Miqlat Dream Team (’n groep jong geestelike leiers wat verder toegerus word om diens te lewer).

Op die oomblik is hier reeds ’n nasorgsentrum wat as ’n ondersteuningsprojek vir graad 2 leerders dien.

Die departementshoofde van verskeie skole (Charleston Hill, Paarlzicht, Magnolia, Nederburg en Paulus Joubert Primêr) identifiseer die leerders wat ekstra klankvaardighede en leermetodes benodig en dan word daar by die ouers toestemming verkry om hierdie ondersteuning uit te voer.

Na afloop van diagnostiese toetse word kinders volgens individuele behoeftes deur middel van ’n holistiese benadering ontwikkel om hul volle potensiaal te bereik.

Leerders van die betrokke skole word direk met die sentrum se vervoer by die skole opgelaai en weer voor 17:00 na hul ouerhuise gekarwei.

Willie Blankenberg sê dat dit kinders is wat sukkel om te lees en ook bietjie stadiger as hul maats in die klas leer, wat gehelp word.

Vir die ekstra harde werk wat die kinders doen om hul leervaardighede te verbeter, word hulle ook kwartaalliks op opvoedkundige uitstappies geneem.

Klein Nederburg Sekondêr tesame met Hoër Meisieskool Paarl het aangebied om die rekenaar- en kafeterialokaal op te kikker deur dit te verf. Hierdie leerders het die afgelope maande kom inloer om hand by te sit met idees.

Glenay Jacobs en Surita Blankenberg geniet aktiwiteite soos sang, klank, dans en storievertelling met die leerders. Daar word beoog om die nasorg in 2010 uit te brei.

“Ek geniet dit vreeslik om met kinders te werk. Ek is baie opgewonde oor die projek en dit is wat ons terug wil sit in die gemeenskap”, sê sy.

Nog ’n personeellid, Jennifer Louw, sê, “Ek het al vantevore besoek afgelê by huise waar leerders in haglike omstandighede woon en ek het toegesien dat hul basiese behoeftes vervul word.”

Jennifer gee berading aan kinders en nooi diegene wat met probleme, ook dwelmprobleme, worstel, om haar te spreek.

Vir meer inligting, skakel sentrumbestuurder Willie Blankenberg by 021-862-8068 of Miqlat skakelbeampte, Lalie Lombaard by 087-8077-465.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za