Oom Theunis op 94 steeds fiks
2009-11-26
Christopher Young
DIE 94-jarige Theunis Goosen het onlangs ’n besondere prestasie behaal toe hy bykans 8km om die bekende Perdeskoen-roete in Wellington gestap het. Oom Theunis, ’n inwoner van Silverkruin, het die prestasie, wat dalk vir baie mense alledaags sal klink, met die aansporing en ondersteuning van ’n bekende halfmarathon-deelnemer, Danie Hauptfeisch (82), vermag. Al het die wind “nogal erg gepla”, is daar om 05:30 die oggend by die kinderhuis weggespring. Die hoërskool verby, dorp uit en net anderkant Ernita Kwekery het oom Theunis dubbeld gevou ’n ruk lank stilgestaan. Toe is daar bekommerd na sy welstand verneem. “Ek is reg,” kom die antwoord, “ek maak net my veters vas”. Om die draai los die wind hom en gaan dit effens beter bult op. By Blouvlei skool en Dwergiebos verby, dorp in, Bergstraat af, links in Burgstraat tot by Silwerkruin se voordeur. Hoe lank dit geneem het maak nie juis saak vir oom Theunis nie, maar hy was darem betyds vir die onbytklokkie teruggewees. Gebore in Wellington en nog altyd ’n inwoner van die dorp, onthou hy dat kleintyd ’n mens maar moes loop waar jy wou wees. Toe sy pa destyds ’n koei kort by Hermon gekoop het moes hy en die koei (tou om die nek) die lang pad te voet aanpak Wellington toe. Kort van statuur, het hy in sy jong dae aan boks en stoei deelgeneem en gereeld streepsakke op die plaas rondgedra. Op 94 gaan dit seker nou sukkel om ’n streepsak rond te dra, maar loop kan om Theunis vir seker nog al is dit nie meer so vinnig nie. Die Perdeskoen is nou getem en nou wat nou? “Hexberg plase om en daar na Hill se huis toe,” kom die selfversekerde antwoord - ’n afstand van sowat 10km. Miskien sal oom Theunis se ontbyt dalk daardie keer effens aan die koue kant wees, maar dat hy die staptog sal klaarmaak, is seker. Die stappery doen hy sommer vir die lekker, verklaar hy kordaat.
More
News
|