Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Skoolhoof groet ná 15 jaar by Hillcrest

Skoolhoof groet ná 15 jaar by Hillcrest
 
2009-11-26

Christine Siebrits

DIE geliefde en gerespekteerde prinsipaal van Hillcrest Primêr lê aan die einde van die jaar die tuig neer. Wanneer besoekers by die skoolhek van Hillcrest Primêr inry, word jy begroet deur ’n atmosfeer van ongedwonge dissipline en rustigheid. Die hekwag het ’n glimlag, die personeel is vriendelik en die leerders is gelukkig en tevrede, almal groet.

Dit is die skool in Wellington waar Japie Adams die afgelope 15 jaar aan die hoof gestaan het - ’n geliefde en gerespekteerde persoon onder die leerders, sy personeel en die hele gemeenskap.

Op die vraag waarom hy vanjaar aftree, het hy stilgesit en diep gedink voordat hy geantwoord het, “Ek het gehoop jy sal nie vir my hierdie vraag vra nie. In die eerste plek het ek vir my die doelwit gestel dat ek op 55 jaar sal aftree, maar die grootste ding wat my die besluit laat neem het, is die toestand van die onderwys. Ek kan nie meer nie, want daar is te veel goed in die onderwys wat nie reg is nie. “Ek voel dat in die afgelope sowat tien jaar het ’n jong geslag verlore gegaan in ’n stelsel waarvoor ons nie reg was nie.

“Maar verstaan my goed, ek sal nie vir die onderwys verlore wees nie. Ek wil betrokke raak by Abet-klasse, opleiding van jeugdiges en volwassenes en in die gemeenskap wil ek my beywer vir my kerk en veral die sorg van bejaardes.”

Japie is ’n gebore en getoë Wellingtonner in murg en been. Hy was die derde jongste van agt kinders. Sy liefde vir die onderwys het hy van sy pa geërf, wat prinsipaal was van Groenberg Primêr en later ook van Newton Primêr.

In daardie dae was daar in elk geval nie veel van ’n keus vir jong mans nie – jy word ’n onderwyser, ’n bewaarder of ’n polisieman.

Hy het aan Bergrivier Sekondêr matrikuleer en het sy onderwysstudies voltooi aan die Hewat-opleidingskollege in Athlone.

Sy eerste onderwyspos was aan die Pauw Gedenkskool op Wellington in 1974. In 1987 het hy saam met die Pauw Gedenk leerders verskuif na Hillcrest Primêr as Departementshoof. Slegs die grondslagfase het by Pauw Gedenk agtergebly.

In 1994, die jaar van die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika, het hy prinsipaal geword van Hillcrest Primêr en sy skool deur al die daaropvolgende stadiums gelei. Hillcrest Primêr se leerders presteer gereeld in ’n groot verskeidenheid aktiwiteite – sport, trompoppies, Soul Buddyz, skaak, ensomeer.

Japie Adams en sy vrou Anne het ’n pragtige dogter, Lynzey, ’n navorser by die Wynboukunde Departement van die Universiteit Stellenbosch.

Sy buitemuurse betrokkenheid het ingesluit sportafrigting, 14 jaar as sekretaris van die Wagenmakersvallei Prinsipale Vereniging en sewe jaar as voorsitter van Wellington Ussasa sport.

Hy sê dat hoogtepunte van sy tydperk as prinsipaal was beslis die Kanya Rekenaarsentrum by sy skool, die aanbou van drie nuwe graad R-klasse en die besondere prestasies van sy skool se trompoppies op nasionale vlak.

“Ek gaan die kinders verskriklik mis.”

Adjunk-hoof Henry Rossouw neem waar in sy plek tot die pos gevul is.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za