Musiekpaar tree op by Bôrdienghuis
2009-12-10
DIE bekende sanger Jannie du Toit en pianis Christa Steyn vier hulle jarelange samewerking in die musiekbedryf met Jannie en die Tannie op Saterdag 12 Desember in die Breytenbach-sentrum se Bôrdienghuis-teater. Hierdie fyn stuk musiekteater, met Engemi Ferreira as regisseur, stel ondersoek in na emosies oor die liefde. Dit is ’n aanbieding vir die hele gesin met ’n lag en ’n traan, maar met die klem op die lag. Dié twee deurwinterde kunstenaars, wat reeds 22 jaar saam in die bedryf is, verras wanneer Christa benewens haar briljante klavierbegeleiding ook ’n buiging maak in die komiese rol van ’n egte plattelandse tannie. Jannie beïndruk met immergewilde liedjies soos Madeleine, maar saam met Christa trek hy ook ’n nuwe baadjie aan vir liedjies soos, Tussen jou en my (van Dozi) en trakteer die gehoor op liedjies uit verskillende wêrelddele. Dit sluit onder andere nuwe Afrikaanse liedjies, ’n Jan Pohl-komposisie en ’n Brel-juweel op Frans in. Die program is ook reeds op DVD uitgereik, en in 2007 is dit bekroon as beste Afrikaanse groep-DVD in die Vonk-toekennings. Jannie en die Tannie het ’n klassieke stuk geword sedert dit in 2005 by die KKNK gedebuteer het en het reeds groot aan talle gehore hier en in die buiteland groot plesier verskaf. Dit was onder andere reeds in Namibië, België, Nederland, Engeland, die VSA en Kanada te sien. Die gehoor gaan huis toe met ’n warm gevoel in die hart en ’n glimlag wat sê - daar is hoop! Kaartjies is R100 en kan bespreek word by 072-115-2913 of per e-pos by teater@breytenbachsentrum.co.za.
More
News
|