’n Boer maak ’n plan
2009-12-10
REËN mag vir party blydskap bring, maar vir ander kan dit noodlottig wees. Sou hulle kon praat, sou ’n broeipaar bloukraanvoëls onlangs veel te sê gehad het oor hul noue ontkoming tydens onlangse swaar reënstorms. Vir die afgelope vyf jaar monitor twee Limietberg veldwagters, John Davids en Adam Jacobs, hierdie broeipaar op die plaas Hoogstede in Agter-Paarl. Hulle is baie dankbaar dat plaasbestuurder Kobus Goussard, hulle toestemming verleen het om die plaas te betree om hier voëls te kan bestudeer. Die bloukraanvoëlpaar kom reeds die afgelope 12 jaar na die dam waar hulle hul eiers op ’n eiland lê en uitbroei, somtyds selfs twee keer per jaar. Die eiland is self nie te groot nie, maar is wel baie gewild onder watervoëls. Maar wanneer die bloukraanvoëls besluit dat dit broeityd is, dan maak hulle hul stem dik en die ander voëls moet vir eers padgee en ’n ander heenkome soek. Toe Davids en Jacobs onlangs die dam besoek het om weer na die broeipaar te kyk, het Goussard ’n interessante storie te vertelle gehad. Hy het vertel dat toe die groot reëns in November vanjaar aangekom het, net mooi in broeityd, het die eiland heeltemal verswelg geraak onder water. Die bloukraanbroeipaar moes toekyk hoe hul broeiplek onder water verdwyn, en hulle het tevergeefs gesoek vir ’n droë stukkie grond om eiers op te lê. Goussard het hul probleem raakgesien. Hoe nou gemaak met “sy kinders”, soos hy hulle noem. Toe kom die plan, hy draai die dam se kraan oop sodat van die water kan uitloop, want die oorlooppunt van die dam kon nie voorbly met die vele reënwaters wat inkom nie. Dit was nie lank nie, toe verskyn die eiland en daar was so ’n vreugde by die broeipaar dat dit’n gedans en gepronk afgegee het. Dit is nou maar waar - ’n boer maak altyd ’n plan!
More
News
|