Spesiale kursusse verseker werk
2009-12-10
Johan Nel
Die bestuur van die Wamakersvallei-opleidingsentrum van Wellington het met sy jongste diplomaplegtigheid nog ’n tree nader beweeg aan hul doelwit om teen 2010 minstens 5000 studente deeglik op te lei en om te sorg dat elkeen van hierdie studente in ’n vaste betrekking staan, sę suster Iréne de Waal, hoof van die sentrum.. Volgens haar het ’n aantal van hul heel eerste studente die afsluitingsplegtigheid verlede week bygewoon. Hul teenwoordigheid het weereens die sentrum se doelwit onderstreep om elke student so op te lei dat hulle na afloop van hul kursusse in ’n voltydse beroep aangestel kan word. Die groep oud-studente het almal hul kursusse reeds agt jaar gelede voltooi. Elkeen van hulle staan vandag nog steeds in die beroep waarin hulle agt jaar gelede, toe hulle by Wamakersvallei klaargemaak het, aangestel is. “Hulle teenwoordigheid by die funksie verlede week was ’n wonderlike aansporing vir die groep studente wat die jongste kursus suksesvol voltooi het,” het suster De Waal gesę. “Die feit dat die oud-studente almal na agt jaar nog steeds by dieselfde werkgewers werksaam is, spreek boekdele vir die standaard van die opleiding wat hulle hier by Wamakersvallei-opleidingsentrum ontvang het. “Tientalle van ons studente was werkloos voordat hulle vir ons kursusse ingeskryf en hulle deeglik vir ’n beroep voorberei het. ” Wamakers se volgende kusus begin op 18 Januarie en die sentrum open reeds op 11 Januarie sodat voornemende studente kan begin inskryf. Kursusse in tuisversorging, kleuter- en babasorg sal aangebied word. Meer besonderhede kan verkry word by 021-873 5942.
More
News
|