Maak die onmoontlike só moontlik
2009-12-10
’n JONG Wellingtonse kunstenaar, Kobus Pienaar (24), is drie jaar gelede met kanker (Hodgkin’s Lymphoma) gediagnoseer. Hy was in die gelukkige posisie om ’n beenmurgoorplanting en ook die beste behandeling te kan kry en vandag is hy skoon en lei hy ’n normale lewe. Kobus vertel: “Ek is deur die Here na Danielle Booysen gelei. Danielle is agt jaar oud en ly aan dieselfde kanker as wat ek gehad het. “Haar ouers is ongelukkig nie in ’n posisie om die duur stamseloorplanting en nasorgbehandeling te kan bekostig nie. Ek het geroepe gevoel om te help.” Kobus en ’n groepie vriende het met die gedagte gekom om ’n organisasie te stig wat verandering in die gemeenskap kan teweegbring. Hierdie organisasie beoog om die grafiek te verander wat die huidige statistiek van Suid-Afrikaanse gemeenskappe reflekteer, te verander. Hulle onderneem om ’n aksie te loods wat sal oormaak, opknap, herbou, herwin en herstel om uiteindelik die samelewing soos ons dit ken te Regraph. Regraph sal fondse genereer deur mode, kuns, musiek en grafiese ontwerpprodukte aan die plaaslike sowel as internasionale mark te verkoop. ’n Persoon of persone of selfs ’n instelling sal jaarliks geïdentifiseer word wie se lewens verander sal word deur die bemiddeling van Regraph. Regraph se eerste projek, ten bate van Danielle se stamseloorplanting, sal bekend staan as Project Rise. Fondse sal gegenereer word deur ’n mega-duisend-stuk kunswerk. Al die blokkies sal saamgestel en gemonteer word om ’n reuse beeld met die tema “upliftment” te skep. Elke blokkie sal aan borge aangebied word teen R250 elk waarvan 20% slegs die oorhoofse onkoste sal dek, terwyl 80% aan die begunstigde (Danielle Booysen) geskenk sal word. Die uitleg, ontwerp en samestelling van die beoogde kunswerk sal gedoen word deur twee plaaslike kunstenaars Kobus Pienaar en Ingrid Hall. Die finale produk sal by ’n sentrale punt uitgestal word in of naby Kaapstad. Danielle Booysen veg reeds die afgelope twee jaar teen kanker. Sy word tans in die Tygerberg Hospitaal behandel. Haar toestand is egter kritiek en sy benodig dringend ’n stamseloorplanting – teen ’n koste van meer as R200 000. Vir verdere inligting, skakel met Cornel Botha (073-477-5895), ’n gemeenskapsontwikkelingspraktisyn en dosent by Hugenote Kollege, of met Kobus Pienaar (082-491-8962).
More
News
|