Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Positief! WP-kleure is te danke aan Glenn se ingesteldheid

Positief! WP-kleure is te danke aan Glenn se ingesteldheid
 
2009-12-10

Jaco van Wyk

TOT ’n sekere mate kan Glenn Ward vergelyk word met Superman, want dit gaan iets bonatuurlik verg om hom onder te kry.

Maar dit was nog altyd die geval met Glenn, selfs nog voor ’n tragiese motorfietsongeluk, wat hom vroeg verlede jaar verlam gelaat het.

Met sy positiewe gesindheid (en ’n groot glimlag op sy gesig) een van sy bekendste kenmerke, sal ’n blinde man egter nooit kan raai dat Glenn nie kan loop nie.

Glenn is absoluut ’n optimis en sien altyd die beste in alles.

Dit is juis as gevolg van dié kenmerk dat Glenn nog altyd sukses op die sportveld behaal het, veral in sy hoërskooljare by die Hoër Jongen- ­skool, waar hy uitgemunt het in rugby en krieket.

Die 19-jarige Glenn erken dat sy nuwe lewe in ’n rolstoel reuse-aanpassings verg, maar dit het nie sy gees gedemp nie.

“My biokinetikus, Bernard Smit, het altyd gesê dat my positiwiteit my nog ver sal bring,” sê Glenn.

Verlede jaar in Maart, toe nog in matriek, was Glenn en ’n goeie vriend, Kyle de Jager, betrokke in ’n bromponie-ongeluk.

Terwyl Kyle so te sê ongedeerd van die ongeluk af weggestap het, was Glenn nie so gelukkig nie. Sy rug is op twee plekke gebreek en hy is verlam gelaat.

Maar vandag, skaars 21 maande ná die grusame ongeluk, het Glenn se droom waar geword en hy het sy WP-kleure (in atletiek) verwerf.

“Ná my ongeluk het ek altyd geweet dat ek steeds sport sal beoefen. Die vraag was net watter sport?” sê Glenn.

“Weens my rolstoel moes ek die moontlikhede navors en oorweeg.”

So het Glenn basketbal en handfietsry aangedurf, terwyl hy ook atletiek-oefeninge saam met sy biokinetikus, Bernard Smit, geoefen het.

“Ek en Bernard het so nou en dan diskusgooi en gewigstoot geoefen op Stellenbosch, by die Maties Sportklub, as deel van my rehabilitasie.

“Dit was daar wat my huidige afrigter, Karin le Roux, my opgemerk het, en gevra of ek nie saam met haar wil oefen nie,” sê Glenn.

Le Roux is ’n bekende atletiek-afrigter op Stellenbosch, en het al met menige bobaas paraplegiese atlete saamgewerk.

“Sport was nog altyd my alles en ek is gek daaroor om iets op die sportveld te vermag. Dus was dit die perfekte geleentheid om saam met Karin te werk,” sê Glenn.

Hoewel Glenn nou WP-kleure vir diskus en gewigstoot ontvang het, ná slegs vyf maande se samewerking met Le Roux, het hy reeds groter doelwitte in sy visier.

“My doelwit was nog altyd om heel bo uit te kom,” sê Glenn oor die geleentheid wat hom nou in die gesig staar om ook SA kleure te verwerf.

Dié geleentheid sal hy volgende jaar in Maart kry, wanneer hy vir WP gaan deelneem aan die SA Paralimpiese Kampioenskappe in Port Elizabeth.

Indien Glenn sy SA kleure kry, kwalifiseer hy outomaties vir die SA paralimpiese span om in 2011 aan die Paralimpiese Spele in Londen te gaan deelneem.

So is Glenn vol planne en hy is amper meer aktief as ooit. Hy beoog selfs om volgende jaar te begin swem.

“Ek doen ook elke dag gimnasium-oefeninge saam met my ouer broer, Gareth.”

Saam met Glenn se ouers en sy meisie, is sy broer een van sy grootste steunpilare in die lewe.

Gareth, ’n gekwalifiseerde persoonlike afrigter, help vir Glenn waar ook al hy kan.

Glenn werk tans by Merwe Genis krieketwinkel op HJS se perseel, maar gaan volgende jaar begin sielkunde studeer by Pneumatix, ’n Christelike kollege in Somerset-Wes.

Volgens Glenn was dit sy absolute “passie vir sport, asook natuurlik die krag van die Here”, wat hom laat besluit het om die glas as half vol (eerder as half leeg) te sien.

Maar dit is duidelik ook die geval met sy passie vir die lewe.

“Ek weet goed dat dit medies onmoontlik is vir my om ooit weer te kan loop, maar ek weet ook goed dat wonderwerke daagliks gebeur,” sê hy.

“Mense besef nie altyd die ongelooflike krag van die Here nie. Kyk bietjie rondom jou - wonderwerke gebeur oral om ons. Ek sal weer loop.”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za