Raad vergader nou minder
2009-12-17
Sieb Sieberhagen
’n BESLUIT dat Drakenstein Munisipaliteit volgende jaar slegs 6 keer gaan vergader in plaas van die gebruiklike een keer per maand, het nie net ’n hewige debat tydens verlede week se maandvergadering uitgelok nie, maar belastingbetalers voel ook dat raadslede nou die helfte minder gaan werk vir dieselfde salaris. Opposisie raadslede voel dat dit ’n klap in die gesig van demokrasie is. Speaker Pele Mgajo het hom beroep op die wet wat voorskryf dat munisipale rade net kwartaalliks hoef te vergader. “Een van die redes waarom daar net twee-maandeliks vergader gaan word, is omdat dit koste-effektief sal wees,” het hy aangevoer. So byvoorbeeld gaan ons die helfte minder vir die vertalingsdienste betaal. Dit kos ons maandeliks R3500 vir dié diens,” het hy ná die vergadering gesê. “Dit is nie ons plan om demokrasie te ondermyn nie,” sê hy. “Dit is ’n hartseer en dreurige dag indien die raad so ’n besluit gaan goedkeur. Hierdie is magspolitiek. Raadslede word ondermyn,” sê raadslid Albertus Buckle van die DA. Koos le Roux van die DA het die raad meegedeel dat tyd vir gesprekvoering oor raadsaangeleenthede nou al hoe minder raak. “Om nou net ’n paar minute in ’n jaar te kry, is nie demokrasie nie,” sê hy.
More
News
|