Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bertus se hond sy nuwe oë

Bertus se hond sy nuwe oë
 
2010-01-21

Lise Beyers

DIE Paarl polisiestasie het onlangs ’n baie spesiale nuwe lid ryker geword.

Dit is in die vorm van ’n gidshond genaamd Travis wat aangeskaf is deur die blinde skakelbord-operateur, Bertus Colyn (39).

Colyn, wat op die ouderdom van 13 jaar blind geword het weens glukoom, het verlede April by die SA Gidshondvereniging aansoek gedoen vir so ’n besonderse hond.

“Dit was ’n reuse-taak wat afgeskop het met die voltooiing van stapels vorms. Hierna moes ek mediese- en fiksheidstoetse ondergaan. Daar word dan ook na die applikant se werks- en huis-omstandighede gekyk.”

Hierdie prosedures word gevolg om die regte hond by die aansoeker te laat pas.

Die opleiding van gidshonde is ’n lang en duursame proses.

Labradors en apporteerhonde (golden retriever) is die voorkeurspesie weens hul intelligensie en saggeaardheid, maar Duitse herdershonde word ook gebruik.

Reeds op die ouderdom van vier weke begin hul opleiding. Eers spandeer hulle ses weke met basiese opleiding om huishoudelike gewoontes aan te leer en hoe om aan ’n leiband te loop.

Hierna begin maande van intensiewe opleiding. Die belangrikste hiervan is om hul uiteindelike eienaar veilig deur besige verkeer te lei.

Hulle leer ook hoe om hard te konsentreer, sodat hul aandag nie afgelei word deur ander honde en mense nie.

Toe Colyn geïdentifiseer is as Travis se voornemede eienaar, moes hy vir twee weke saam met Travis opleiding ontvang in Kaapstad.

En dan was daar ’n toetsperiode van nog twee weke waar hulle saam geleef en werk het om te kyk of hulle bymekaar kon aanpas.

En Bertus kan nie glo dat hy so lank gewag het voordat hy aansoek gedoen het vir ’n gidshond nie.

“Dit is asof ek nuwe oë gekry het. Travis het my lewe nou so vergemaklik. Ek kry alles vinniger en makliker gedoen.”

Bertus en sy vrou Sonja verwag hul eerste baba in Maart.

Maar om ’n gidshond te hê, kom nie sonder struikelblokke nie.

Daar is wetgewing in plek dat gidshonde basies oral hul eienaars mag vergesel.

“Maar sedert ek vir Travis het, was daar wel ’n paar onvriendelike reaksies van winkeleienaars as ek daar besoek aflê.”

Colyn vertel dat die Paarl in die geheel ’n vriendelike dorp is teenoor sy blinde inwoners.

“Maar wat vir my geweldig pla, is as mense nie na hul heinings omsien nie. Hulle dink nie daaraan dat as iemand soos ek in die straat loop, dan klap hierdie takke my in die gesig nie. Dit is veral irriterend as dit gereën het.”

Dus dra Colyn nou ’n snoeiskêr saam met hom, en as hy sulke struike teëkom, dan snoei hy self die bos.

“Ek vind dit ook onaanvaarbaar dat daar geen veilige voetoorgang in die Bergrivier Boulevard is nie.

“Behalwe die feit dat ek daagliks hierdie besige pad moet oorsteek, is daar talle skoolkinders wat dit ook moet doen.

“Ek het verlede jaar ’n motiveringsbrief aan die Drakenstein Munisipaliteit gerig, maar dit het nog nie vrugte afgewerp nie.”

Na slegs ’n maand as Colyn se regterhand en oë, is Travis heel gemaklik in sy nuwe tuiste, ook waar hy daagliks snoesig op sy bed lê by die Paarl polisiestasie.

Dit is maar die begin van ’n hegte verhouding tussen dié twee wat oor meer as tien jaar sal strek.

Die Gidshondvereniging maak staat op donasies van die publiek (sien www.guidedog.org.za).

* A blind switchboard operator at Paarl police station has received a guie dog for the first time.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za